RIVERSDAL NUUS - Genoeg is genoeg.
So het 'n vrou van 27 besluit nadat haar pa (52), haar vir die soveelste keer verkrag het.
Volgens konst. Venia Daries, polisiewoordvoerder, het hy haar herhaaldelik verkrag sedert sy agt jaar oud was. Dié keer het hy haar met 'n mes gedreig.
Die voorval het omstreeks 13:15 op Saterdag 7 Maart plaasgevind. "Toe sy wakker word, was hy na bewering saam met haar in die bed. Hy het 'n mes by hom gehad. Haar ma was ten tyde van die voorval nie tuis nie." Sy het die saak dieselfde dag by die polisie aangemeld en hy is dadelik in hegtenis geneem.
Hy het Maandag 8 Maart in die hof verskyn en die saak is tot 16 Maart vir 'n borgtogaansoek uitgestel. Borgtog is geweier. Hy kom weer op 16 April voor.
Op Internasionale Vrouedag, wat op 9 Maart gevier word, het president Cyril Ramaphosa tydens 'n geleentheid in die Vrystaat gesê vroue moet die nodige ondersteuning ontvang om finansieel onafhanklik te word. "Die insluiting van vroue in die ekonomie is noodsaaklik vir die land se ontwikkeling, maar ook omdat ekonomiese begrensing en finansiële afhanklikheid vroue vir uitbuiting kwesbaar maak."
Op Vrouedag word nie net vroue se suksesse op verskeie terrein gevier nie, maar ook gekyk na vordering wat gemaak word om geslagsgebaseerde geweld hok te slaan.
R1,6 miljard is reeds in September 2019 vir 'n noodaksieplan teen geweld teen vroue toegewys met die doel om wetgewing tande te gee, soos deur strenger borgtogvoorwaardes te stel en swaarder vonnisse op te lê. Die plan fokus daarop om vroue wat geslagsgebaseerde geweld oorleef het, toegang tot die regstelsel te verseker, asook bewusmakingsveldtogte om houdings en gedrag te verander. Dit sluit ook die ontsluiting van ekonomiese geleenthede vir vroue wat kwesbaar vir misbruik is, in.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'