Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - 'n 17-jarige meisie is na bewering op Vryheidsdag, Vrydag 27 April aangerand en verkrag.
Sy was blykbaar slegs twee minute se stap van haar woning af toe sy aangeval is. Die verdagte is Sondag 20 Mei gearresteer.
'n Woedende en geskokte gemeenskap het Donderdag 28 Junie, dieselfde dag wat die verdagte in die hof verskyn het, 'n optog gehou.
Betogers het 'n aansoek dat borgtog geweier moet word ingedien. Hulle het onder andere gesing: "Wat het ons gedoen om verkrag te word?" en geroep, "Rape moet uit Albertinia uit!"
Past. Ivan Mangaliso van die Albertinia Youth Development Council (AYDEC) het die groep toegespreek nadat hulle met plakkate omhoog vanaf Theronsville-gemeenskapsen-trum deur die dorp, tot by die plaaslike hof gestap het.
"Julle moet hierdie soort gevalle aanmeld. Ons voel baie keer te skaam om daaroor te praat.
"Daar word so maklik vinger gewys en gesê dit was die slagoffer se skuld. Ons moet nie toelaat dat hierdie soort gedrag ons jeug afkraak nie," het Mangaliso gesê.
Hy het 'n petisie aan landdros DJ Torlage en kaptein Susan Botha oorhandig.
Kyk 'n video hieronder:
AYDEC vra onder meer daarin dat die jeug by buurtwagte betrek word en 'n 'Youth Desk' geïmplementeer sal word, sodat veral die jeug meer gemaklik sal voel om klagtes in te dien.
Borgtog is nie toegestaan nie en die aangeklaagde sal weer op 26 Julie in die hof verskyn.
Hier ontvang landdros DC Torlage die petisie by past. Ivan Mangaliso.
Lees 'n vorige artikel: Albertinia-gemeenskap staan saam
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'