HESSEQUA NUUS - As gemeenskaps-koerant wil Suid-Kaap Forum aktief in ons streek betrokke wees, nie slegs om ons gemeenskap op hoogte te hou van nuus en ander interessante gebeure nie, maar waar moontlik ook uitreike doen.
Om daardie rede was ons met ons Goue Oues-projek die afgelope vyf jaar baie nou by tehuise in ons streek betrokke, maar die tyd het nou vir 'n nuwe projek aangebreek.
In die verlede het ons met Group Editors se Oliver Twist-skoenprojek goeie resultate behaal en kon ons vir baie leerders van Melkhoutfontein Primêre skool skoene voorsien.
Vanjaar wil ons met ons splinternuwe GET (Group Editors Together) Oliver Twist-projek op traumakamers in die streek fokus omdat baie van hierdie hoofsaaklik mishandelde vroue en kinders dikwels nie eens 'n trui het om in die winter aan te trek nie.
Ander belangrike items wat by so 'n eenheid benodig word, sluit in komberse, linne, teddiebere en ander sagte speelgoed vir kinders, toiletware, musse en so meer.
Breiers
Sou dit nie in u vermoë wees om met goedere/items te help nie, maar u kan wel brei of hekel (nie noodwendig net vroue nie), sal dit ook van groot hulp wees. Persone wat dalk ekstra wol, brei- of hekelpenne het wat net rondlê, is welkom om dit aan ons te skenk om aan persone te gee wat bereid is om vir die projek te brei.
• Persone wat belangstel om 'n helpende hand uit te reik, of hand in die sak (beursie) te steek, kan die redakteur, Wilma Adamson by 028 713 2468 kontak of haar by Suid-Kaap Forum se kantore in Heidelbergweg 29, Riversdal besoek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'