STILBAAI NUUS - Stilbaai is op 31 Maart as KykNET-Kwêla se Wes-Kaap Dorp van die Jaar aangewys, en staan nou 'n kans om algehele wenner in die land te wees.
Dié kusdorp is bekend vir heelwat gewilde aktiwiteite wat al vir baie jare aangebied word - soos die Stilbaai Galjoen-derby (die grootste vang- en loslaathengelkompetisie in die land), die Vintner's Surf Classic in Augustus, die jaarlikse Touch Rugby (wat sy oorsprong meer as 40 jaar gelede in Stilbaai gehad het) en selfs die Trans-Agulhas wat ook vir dekades elke Desember hier aandoen.
Deur die jaar word ook feeste en geleenthede aangebied, soos die enigste brood- en beskuitfees in die land. Dit is alles dinge wat Stilbaai 'n lekker dorp maak - en wat kan bydra om dit die KykNET-Kwêla Dorp van die Jaar te maak! Maar wanneer het dié kusdorp ontstaan en wat maak dit so besonders?
Vroeë ontwikkeling
Die grond waarop Stilbaai oor die jare ontwikkel het, het bestaan uit 'n klein gedeelte staatsgrond, asook aan die oostekant van die Goukourivier op die plaas Ellensrust en aan die westekant op die plase Platbosch en Jagersbosch. Die eienaar van Ellensrust was W.H. Hofmeyr, terwyl die plase aan die westekant hoofsaaklik aan die De Jager-familie behoort het.
Die Blombosgrot is een van die belangrikste argeologiese fondse van die eeu.
Die eerste ontspanningsplek - Lappiesbaai
Volgens vertellinge van ou inwoners, het talle mense van dalk so vroeg as die agtiende eeu met hulle ossewaens van Riversdal en die Klein-Karoo gekom om by die riviermond vis te vang. Die uitspanningsplek was ongeveer waar die kampterrein Ellensrust vandag geleë is. Die kampeerders het hul wasgoed oor bossies gegooi om droog te word en vandaar kom die naam 'Lappiesbaai.'
Eerste verdeling in erwe
Inwoners van Riversdal het in 1866 aansoek gedoen vir grond wat in erwe verdeel kon word sodat huisies opgerig kon word vir mense wat kom visvang. Die eerste erwe is eers in 1873 op die stuk grond wat vandag bekend staan as 'Little England' uitgemeet. Dit was die eiendom van Johannes Guillaume Steyn, wat 'n voorsaat van die bekende Muir-familie van Stilbaai was.
Die silwerskoon strande is ’n groot aantrekkingskrag vir toeriste.
Begin van groei
Teen die einde van die 1920's het stedelinge begin uitvind watter juweel die strandoord Stilbaai is en daar het die dorp se uitbreiding eintlik begin. Vandag is daar ongeveer 6 000 permanente inwoners en heelwat vakansiehuise.
Besiens-waardighede en historiese geboue
• Palinggat-opstal: Die huis het aan die De Jager-familie behoort en is in die 19de eeu gebou. Dis in 1985 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar, saam met die fontein op die eiendom waarin mak palings woon. Die perseel huisves tans die Stilbaai-toerismeburo en inligtingsentrum. Die palings word elke oggend behalwe Sondae om 11:00 gevoer. 'n Klein toegangsfooi word gevra.
• Jagersbosch: Die woning wat ook deur die De Jager-familie in die 19de eeu gebou is, is in 1991 tot nasionale gedenk-waardigheid verklaar. Die gebou dien as kantore van die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum. Buiten die hoofgebou is daar ook twee historiese sinkhuisies, Urheim en Friedensheim, op die terrein. Hulle is vanaf hulle oorspronklike ligging verskuif en daar presies herbou.
• Bellevue Resort: Dit was Stilbaai se eerste gelisensieerde hotel. Die gebou is in 1924 gebou en word nou as selfsorg-verblyfeenhede aangewend.
• Die klipkerk: Die ou kerk met sy pragtige gewels is 'n imposante gesig aan die oostekant. Dit is in 1928 gebou in opdrag van die Riversdal NG Kerk. Dit word nou as kerksaal vir die NG Kerk Stilbaai gebruik.
• Visvywers: Dié halfmaanvormige klipstrukture wat op 'n paar plekke gebou is om vis wat met hoogwater inspoel en vasgekeer raak wanneer die gety terugtrek, is een van die belangrikste kultuurhistoriese besienswaardighede van die dorp.
• Blombosgrot: Dis een van die belangrikste argeologiese fondse van die eeu en bevat inligting van onskatbare waarde oor die ontstaan en vroeë ontwikkeling van die mens. Die Blombos-museum kan by die inligtingsentrum besoek word.
• Veldblomme: Stilbaai se duine en rante bied 'n fees vir liefhebbers van veldblomme. Hier word selfs plantspesies aangetref wat slegs hier en in die Bredasdorp-distrik voorkom.
• Tuin-op-die-Brak: 'n Unieke fynbos-botaniese tuin aan die oostekant wat ook vir blindes toeganklik is, met inligtingsbordjies by elke plant wat ook in braille geskryf is. Die tuin is ook rolstoelvriendelik.
• Inverroche: Die internasionaal-bekende jenewerdistilleerdery is net buite Stilbaai geleë.
• Walvisse: Tussen Junie en Oktober baljaar die Noorkapperwalvisse langs die Stilbaai-kuslyn.
Die dorp beskik oor verskeie blouvlagstrande.
Palings word elke dag buiten Sondae om 11:00 teen ’n klein toegangsfooi gevoer.
- Bronne: Verskeie webwerwe, inwoners en Helene Steyn se boek 'Stilbaai' (vyfde uitgawe).
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'