RIVERSDAL NUUS - Diewe het amper die nasionale danskompetisie ontwrig wat nou op dié dorp aangebied word.
Die jaarlikse AADA-kompetisie (Anwyn’s Acro Dance Academy), wat deur die Intergrated Artistic Acrobatic Association of South Afrika, onderskryf word, het Maandag in die burgersentrum begin.
Toe die organiseerders Dinsdagoggend daar aankom, het hulle onmiddellik onraad bespeur.
"Ons het agtergekom 'n paar goed is weg, " sê Annette Matthee, namens die Artistic Acrobatic Assosiation of South Africa.
Tussen die vermiste goedere was grimering, haarstileerprodukte, die dansers se geskenkpakkies, draagbare kragkabels en van die deelnemers se ontwerper-kostuums.
Dié situasie is onmiddellik by die sekerheidsmaatskappy en by die plaaslike polisie aangemeld.
Teen eenuur die middag is twee verdagtes in hegtenis geneem en die meeste van die gesteelde goedere is gedokumenteer en aan die organiseerders terugbesorg.
"Ons is verlig dat die Riversdal-polisie se vinnige optrede 'n goeie uitkoms verseker het,” sê die organiseerders.
Die glansryke trofeë vir die land se beste akrobatiese ritme-dansgimnaste. Foto’s: CJ de Swardt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’