Die projek is einde 2011 van stapel gestuur nadat die kommandobestuur aanbeveel het dat 'n bedrag van R25 000 uit eie beleggings daarvoor aangewend kan word. 'n Bonus op die koop toe was toe die adjunk-kommandoleier, Craig Boswell ingewillig het om die hele projek as bou-aannemer deur te voer.
Die binnemure is uitgebreek, die gangetjie toegebou, die ou badkamer en stort wat in onbruik was, is in 'n pakkamer omskep, die kombuis is opgradeer en die ou bakoond is oorgedoen - om net 'n paar van die dinge te noem wat by die projek ingesluit was.
Om alles mooi af te rond, is die pragtige mosaïek Voortrekkerwapen wat by die terrein ingang gestaan het, netjies reggemaak en voor in die saal gemonteer.
Die Voortrekkersaal is amptelik op Maandag, 5 November geopen en in gebruik geneem. "'n Reuse dankie aan elkeen wat bygedra en saamgewerk het om hierdie droom te verwesenlik. 'n Spesiale woord van dank aan Craig, wat alles sonder vergoeding gedoen het," het Tielman Roos, kommandoleier gesê.

Presidentverkenners George Uys jnr., Christel Vermeulen, Krismari Lombard, Jaco Uys en Marquerite Marais met die vlae en fakkel voor Die Voortrekkersaal.