RIVERSDAL NUUS - Ongeveer 50 besorgde Riversdallers het Saterdag by Jurisch Park byeengekom om hul teenkanting teen die voorgestelde ontwikkeling van die park te toon en inwoners aan te moedig om formeel beswaar aan te teken.
Die voorgestelde verkoop en hersonering van ’n gedeelte van Erf 2080, waarop Jurisch Park geleë is, is vir die ontwikkeling van ’n groot winkelsentrum.
Martin Cronje, een van die inwoners wat die beswaaraksie ondersteun, sê die park se waarde as openbare groen ruimte kan nie onderskat word nie.
“Ek het Saterdag net weer opnuut besef watter ontsaglike waarde die park vir Riversdal en al sy mense het,” het hy gesê.
Hy het gewys op gesinne en kinders wat die park gebruik om te ontspan en speel, en sê dit is veral belangrik vir inwoners met beperkte oop ruimte by hul huise.
Volgens die beswaarskrif beslaan die betrokke gebied ongeveer 37 170 m² - byna 3,7 hektaar of die grootte van sowat vier rugbyvelde - en vervul dit reeds ’n belangrike sosiale en ontspanningsfunksie.
Beswaardes is bekommerd oor moontlike gevolge vir eiendomswaardes, verkeer, geraas, die bestaande sakekern en biodiversiteit.
Hulle vra ook vir onafhanklike eiendoms-, sosio-ekonomiese, verkeers- en geraasimpakstudies, asook ’n omgewingsinvloedbepaling.
Chris Jurisch, wie se oupa die park se naamgenoot is, het ook beswaar aangeteken.
“Ons hoef nie Jurisch Park aan ’n winkelsentrum te verloor nie, want daar is ander plek wat gesoneer is daarvoor,” sê Cronje.
Volgens die beswaargroep is Vrydag, 21 Augustus om 12:00, die sperdatum vir besware. Kontak Cronje by 084 406 5987 vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’