Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Dit is die eerste keer in die Royal Crusader Christmas Choir se bestaan dat vier jong vroue deel van die blaasorkes vorm.
Anja Steyn (23), Leverne Michaels (22), Shareeva Saayman (22) en Melissa de Villiers (15) is deel van die orkes wat uit sowat 60 lede bestaan.
Die orkes, wat in 1962 ontstaan het, bestaan naas die Brigade onder die vaandel van die St. Andrew's Anglikaanse Kerk.
Dit is 'n Christelike instelling wat die kerk dien en in die kerk optree, terwyl die Christmas Choir die gemeenskap dien en by verskeie sosiale geleenthede, soos aannemings, begrafnisse, verjaarsdae en sangaande optree.
"My oupa Freek het my elke aand na die kerksaal saamgebring waar die orkes oefen," vertel De Villiers. Hy is die ondervoorsitter van die Krismiskoor, soos dit algemeen bekend staan en is op 70 al 43 jaar betrokke.
By die kerksaal, hul 'tweede tuiste', leer orkesleier Arnold Albrink lede om musiek te lees en verskillende blaasintrumente te bespeel.
De Villiers, wat verlede jaar aangesluit het, bespeel 'n alto-saksofoon. "Ek was lus om saam met my oupa te kom. Dis lekker en dit hou jou van verkeerde dinge soos dwelmmisbruik weg."
Die oefensessies twee maal 'n week van 18:00 tot 19:30 op Maandag- en Donderdagaande skrik haar nie af nie. "Ons leer baie nuwe liedjies in die tyd," vertel sy.
Die koor neem gedurende die eerste drie maande van die jaar aan kompetisies in die streek deel waar die SWD-blaasorkesunie hulle indeel. Kore van Wes-Kaapse dorpe van McGregor tot Groot-Brakrivier neem deel.
Kyk 'n video hieronder:
Michaels het op negejarige ouderdom betrokke geraak. "Ek het die orkes een middag in die straat sien afmarsjeer en agter hulle aangehardloop. Die leier het 'n uitnodiging aan almal wat belangstel gerig om aan te sluit en Maandagmiddag was ek by die kerk." Sy het toe al onderrig in klarinet van Pam de Goede ontvang. "Wanneer 'n mens by die Brigade aansluit, leer jy eers om te marsjeer, waar ek 'n sytrom bespeel het."
Sedertdien het sy geleer om ook die alto-saksofoon te bespeel.
Saayman het ook eers by die drilpeloton 'n draai gemaak waar sy 'n sytrom bespeel het. Haar eerste instrument daarna was 'n trompet, maar sy is ook besig om die ufonium te bemeester. "Die orkes hou my besig en dit is die hoogtepunt van my dag."
Steyn het in 2009 net na haar suster Annuska aangesluit. "My pa was baie musikaal en het in 'n langarmorkes gespeel. Hy het my geleer om kitaar en saksofoon te speel en ek het direk as lid van die orkes aangesluit, want ek het met my saksofoon opgedaag."
Sy het 'n bastrom in die Brigade bespeel en ook al as aanvoerder voorgestap. Hiervoor het sy al eerste plekke in kompetisies behaal.
Lees 'n vorige artikel hier: Vier jong vroue ken hul koper
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'