HESSEQUA NUUS - Al meer besighede begin e-handel as 'n goeie moontlikheid om hul voortbestaan tydens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking te verseker, sien. Dit kan egter 'n mynveld vir die onervare persoon wat nog geen webteenwoordigheid het nie wees.
Een sakevrou van Hessequa wat reeds die aanlyn-pad begin stap het, is Louise Kluyts van Heidelberg.
Haar kunsgalery het voor inperking heeltemal op fisiese handel staatgemaak en ook opleiding aan jong kunstenaars by die ateljee verskaf.
Die koronavirus het egter die bordjies verhang en Kluyts sê sy het agtergekom dis nie so maklik om 'n besigheid meer digitaal-vriendelik te maak nie: \"Ek probeer my bes, maar moet erken daar is baie meer aan as wat mens besef. Dis beter om raad te kry." Veral sosiale media is vir haar 'n groot uitdaging: "Ek kom agter ek het nie geweet waarvoor ek my inlaat nie!"
Didi Serfontein bedryf 'n deli, geskenk- en dekorwinkel in Stilbaai.
Sy sê inperking het hulle ook gedwing om e-handel te ondersoek om kop bo water te hou: "Dis anders om jou produk aanlyn te verkoop as om by die winkel in te stap. Met produkte soos ons s'n speel sintuie 'n groot rol. Die reuk van vars gemaalde kruie, koffie en tuisgebak kan jy nie aanlyn smous nie. Ons is dankbaar vir die kans wat tegnologie bied, maar ek dink eienaars moet hul huiswerk goed doen en buite die boksie dink. Ons sal beslis meer opleiding moet kry."
Didi Serfontein
- Die Wes-Kaapse regering het 'n program van stapel gestuur waarvolgens kundige vrywilligers gratis opleiding aan klein besighede in die provinsie sal verskaf. Volgens die departement ekonomiese ontwikkeling en toerisme kan dié deskundiges raad oor onderwerpe van leiding met digitale bemarking en inventarisbeheer tot praktiese wenke hoe om 'n besigheid na digitale handel oor te skakel, gee.
Toep vir entrepreneurs
Eienaars van klein besighede wat in 'n gratis twee uur lange opleidingsessie belangstel, moet op die mobiele toepassing, JUMP for entrepreneurs, registreer. Dis op sowel Android as Apple beskikbaar.
Na 'n profiel geskep is moet die kontakvorm onder Opportunities voltooi word en 'n verteenwoordiger van die projek sal dit opvolg.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'