Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Wat Saterdag 7 Mei net 'n vinnige uitstappie na die winkel sou wees, het in 'n nagmerrie ontaard toe 'n splinternuwe Toyota Urban deur die relings by OK Foods se parkeerterrein gebars het.
Tragedie is voorkom toe net die helfte van die motor oor die 2 m hoë muurtjie bly hang het.
Die geskokte egpaar is baie vinnig deur omstanders te hulp gesnel.
Volgens die bestuurder het haar man die vorige dag 'n oogoperasie gehad en sy wou nie dat hy bestuur nie.
Ongelukkig is sy nie aan 'n outomatiese motor gewoond nie en begaan toe 'n voetfout, amper soos in netbal en trap toe die petrol in plaas van die remme. Toe hulle hul weer kon kry, hang hulle oor die muurtjie.
Sou die voertuig oorgegaan het, kon hulle baie ernstige beserings opgedoen het. Dit was net 'n bestiering dat die motor gestop het.
VIDEO: Die tante en die wegholmotor
Planne is vinnig beraam en terwyl sommige omstanders die motor agter afgedruk en ander hom voor bietjie opgedruk het, het JC van Rensburg hul vurkhyser gaan haal en dit voor, onder die motor ingedruk om dit te stut.
Die gevaarlike situasie is vinnig onder beheer gebring deur 'n spanpoging van vele weldoeners.
Daarna moes 'n boomtak wat in die pad was, eers afgesaag word. Iemand met 'n bakkie het 'n tou aan die motor vasgemaak. In 'n spanpoging het JC die motor voor opgelig sodat die bakkie dit kon terugtrek tot in die parkeerarea terwyl weldoeners die hele operasie gekoördineer het.
Nadat 'n papwiel omgeruil en die motor 'n vinnige inspeksie gehad het, is bevind dat daar net paneelklopskade is. 'n Vriend het die egpaar met dieselfde motor huis toe geneem.
Die geskokte bestuurder het gesê sy bestuur al 60 jaar en hierdie was haar eerste ongeluk.
Gelukkig het alles goed afgeloop en het Stilbaai se mense weereens gewys dat hulle kan saamstaan.
Vorige artikel: Ho! As ek sê ha!
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'