RIVERSDAL NUUS - Meghann en Wikus Louwrens, vrywilligers van die Santa Shoebox-projek in Riversdal het Donderdag 11 en Vrydag 12 Oktober Santa Shoeboxes aan drie plaaslike laerskole in die omgewing oorhandig.
Die leerders van die skole is almal behoeftige kinders en 'n spesiale boks met noodsaaklikhede, sowel as lekkergoed, klere en 'n speelding word vir elkeen gepak. Vanjaar het 142 boksies vol omgee en liefde kinderharte verbly.
Die boks word verfraai en op van dié bokse is die kind se naam selfs uitgespel.
Meghann vertel: "Ek het vier jaar gelede met die projek begin. Dit is in my gene om te gee en ek geniet elke oomblik daarvan. Wanneer die sterretjies weer in hul ogies begin skitter en hul glimlaggende gesiggies my hart verwarm is alles die moeite werd."
Vrywilligers neem verantwoordelikheid vir 'n kind en moet dan die boks volgens Santa Shoebox-riglyne pak. Elkeen is meer as welkom om iets ekstra in te sit.
"Ons wil vir elkeen wat gehelp, 'n bydrae gemaak en dié wat 'n kind se hart met 'n boks verbly het, baie dankie sê. Dankie vir my wonderlike man wat elke jaar soos die 'Shoebox Santa' aantrek".
'Shoebox Santa' kry 'n stewige drukkie van 'n jong leerder.
Die Louwrens-paartjie gee hul tyd, energie en kundigheid sonder vergoeding om kinders 'n glimlag te gee. Die Santa Shoebox-projek het in 2006 in Kaapstad met 'n nederige 180 skoenbokse ontstaan. In 12 jaar het dit gegroei en die aantal bokse wat geskenk is, het altesaam 762 594 bereik.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'