HESSEQUA NUUS - Soos so baie ander kusdorpies draai vakansievermaak op Gouritsmond hoofsaaklik rondom die see en die rivier - veral visvang.
Dit is waarskynlik die goeie hengelplekke wat die eerste vakansiegangers gelok het en verantwoordelik was vir die ontstaan van die dorp.
Rivier-, rots-, strand- en diepseehengel is 'n gewilde tydverdryf en elke hengelaar het natuurlik sy gunsteling plek. Vra maar hier rond en jy sal 'n lys van beskrywende name hoor wat ingekleur is met nostalgie. Daar is Haaikrans, Steentjie se gat, Holkom, Skool se Bank en Nelie's Gift.
Fauna
Een van die rariteite van die Gouritsmond meentgrond, is die bedreigde skoenlapper (Poecilmitis brooksi teari), wat gedeeltelik afhanklik is van 'n mierspesie wat na sy larwes omsien.
Flora
Die streek val in die 'World Heritage Cape Floral Kingdom'. 'n Groot gedeelte van die grond binne die grense van Gouritsmond is weens die sensitiewe plantegroei wat hier voorkom, as oop ruimte soneer, wat beteken dat dit amptelik 'n bewaringsgebied is. Dit is die tuiste van minstens 14 spesies van bedreigde plante.
Gouritsmond is die tuiste van 'n goed-gevestigde bevolking van die skaars grond orgideë, die Disa lugens of Baardmannetjie. Hulle groei hoofsaaklik in die dektrietbosse weens die beskerming wat die wortelstelsel bied teen molle wat die bolle vreet. Die plaaslike bevolking is uniek omdat dit gedurende die winter blom. Dekriet kom algemeen in die omgewing voor.
Voëlkyk
Kry jou verkyker en voëlboek reg en draai so 9km vanaf Albertinia, op die N2 af na Gouritsmond op die R325. Gouritsmond en omliggende gebied is 'n magiese trekpleister vir 'n wye verskeidenheid van endemiese voëlspesies wat hier in die diverse habitats broei en gedy, 'n juweel vir die voëlkykers.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'