RIVERSDAL NUUS - Trane het gerol toe 'n Persiese kat, Judy die afgelope week vermis geraak het.
Die gesegde "Die kat kom weer" het egter sy bewoording gestand gedoen.
Vroeg Woensdagoggend, 9 Desember het Judy se eienaar, Rebecca Moolman agtergekom haar geliefde troeteldier is skoonveld. Roep het niks opgelewer nie en die soektog het begin. Binne Moolman se woning is kaste, laaie en enige moontlike skuilplek deeglik deursoek.
Toe die aanvanklike soektog niks opgelewer het nie het sy haar tot die Suid-Kaap Forum gewend met die hoop dat sosiale media suksesvol sal wees om Judy te vind.
Die koerant se digitale afdeling het binne minute 'n foto van Judy en inligting oor die soektog aanlyn geplaas.
Terwyl boodskappe van vertroosting dat katte soms vir dae wegloop en weer terugkeer huiswaarts ingestroom het, het Moolman min geweet Judy is onder haar neus waar sy in haar slaapkamer besig was om 'n plakkaat voor te berei om oral op te plak, met die boodskap dat sy die een wat haar Persiese kat terugbesorg, sal beloon.
Ewe gedwee en min gepla oor Moolman se rollende trane, het Judy die kamer ingestap.
"Na vier ure se soek het Judy uit 'n geheime gat onder in 'n laaikas gekruip," vertel Moolman.
Sy sê sy het in die kas gesoek, maar nie geweet van Judy se geheime wegkruipplek nie. Moolman se trane het weer gerol, maar die keer van blydskap. Sy is nou gerus dat sy weet, die kat kom weer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'