Update
STILBAAI NUUS - Die aankondiging deur pres Cyril Ramaphosa op Sondagaand, 27 Junie dat die hele land weer na vlak 4 gaan, was vir baie Wes-Kaapse inwoners 'n onaangename verrassing, veral die feit dat geen drankverkope mag plaasvind nie en restaurante slegs wegneemetes mag voorsien.
In 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum het Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer die volgende vrae beantwoord:
Was vlak 4 vir julle 'n verrassing, of het julle dit verwag?
Nie 'n verrassing nie, maar wel kommer oor die beduidende ekonomiese, sielkundige en sosiale gevolge van die aankondiging. Alle sakeondernemings in Stilbaai word negatief geraak as in ag geneem word dat dit 'n rimpeleffek op die aanvoer en waardeketting van toerisme, restaurant- en drankwinkel-eienaars in die dorp het.
Verwag julle 'n drastiese afname in wintervakansiegangers?
Ons voorsien beslis 'n afname. Wat egter tot ons voordeel is, is dat heelwat besoekers ook huiseienaars is en daarom tog die risiko sal neem om te kom uitspan.
Mediese kenners voorspel dat die regering die twee weke sal moet verleng om die gewenste uitwerking te kry. Hoe gaan dit ons raak?
Die kans is goed dat dit verleng kan word, wat natuurlik 'n verdere knou vir die plaaslike ekonomie inhou. Ons is baie bekommerd oor die impak op werksgeleenthede, wat uiteraard 'n enorme sosiale ontwrigting en groter afhanklikheid van plaaslike toelaes tot gevolg sal hê.
Dit raak nie net restaurante en drankwinkels nie. Sekere bouprojekte of uitbreiding/verbeterings word seker geraak?
Die uitbreek van die pandemie het die evolusie van sakeondernemings versnel, aangesien die struktuur van besigheid en werkskepping besig is om vinnig te verander. Die sakekamer is baie trots op plaaslike sakelui vir hul innoverendheid, aanpasbaarheid en deursettingsvermoë gedurende hierdie uitdagende tye.
Die bekommernis is egter dat daar weer eens heelwat fokus op die vermindering van kostedrywers geplaas word, soos personeeluitgawes, huur en voorrraad en nie genoeg nuwe werksgeleenthede geskep word nie. Die rimpeleffek op die ekonomiese en sosiale omstandighede op die korttermyn is dus enorm.
Is daar enigiets wat die sakekamer kan doen om ondernemings te help?
Die sakekamer het reeds verlede jaar suksesvol druk op die munisipaliteit en eienaars van besigheidskomplekse geplaas om klein besighede tegemoet te kom. Opvolggesprekke word met die munisipaliteit beplan vir 'n tweede hulpfonds.
'n Pro bono konsultasieforum, wat uit afgetrede inwoners met die nodige sakekennis en kwalifikasies bestaan, is vir lede beskikbaar gestel.
'n "Koop plaaslik"-veldtog is verlede jaar van stapel gestuur, wat 'n aanlynopname ingesluit het wat die behoeftes en voorkeure van die gemeenskap bepaal het.
Dit wil vir ons voorkom of die regering nie met die bestuur van die gesondheidsrisiko van die pandemie, 'n holistiese benadering handhaaf en ook nie altyd op grond van wetenskaplike gegewens besluite neem nie. 'n Plaaslike ekonomie soos Stilbaai wat deur kleinsake gedryf word, het net nie meer die kapasiteit om die gevolge op die ekonomie te hanteer nie. Selfs die suksesvolle inisiatiewe om sakelui te ondersteun gedurende die eerste twee inperkings is nie meer voldoende of uitvoerbaar nie.
Eienaars van besigheidskomplekse is self onder enorme druk as gevolg van die inperkings en 'werk van die huis' inisiatiewe. Fondse vir finansiële hulp is ook uitgeput.
Vorige artikel: Wall praat oor gevolge van vlak 4
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'