ALBERTINIA NUUS - Die merkwaardige Jim Manus is een van die oudste inwoners van die dorp en op 95-jarige ouderdom is hy nog perdfris en gesond.
Oom Jim is op 25 September 1922 op Riversdal gebore en was die jongste van nege kinders, sewe seuns en twee dogters.
Hy is die enigste oorlewende.
Naby Ystervarkfontein, in die Kangkana-gebied van destyds het hy oor die boerdery begin leer.
Daar is met Afrikanerbeeste geboer en hy vertel dat die kalwers almal rooi is, maar hy moes die kalwers en koeie uitken.
Nadat hy in die duine homself as veewagter bekwaam het, is hy na Ottershoek naby Herbertsdale, by Die Poort waar hy 'tiere' (luiperds) en ander roofdiere moes jag om die vee te beskerm.
Die eienaar van die plaas was toe Thys Streicher.
Daarna het hy vir Mike Muller en toe Gawie Muller vee in die berge opgepas. Hy moes die skape in die agtermiddag na 'n veilige plek neem, want die luiperds was volop en het die skape in die nag aangeval.
Oom Jim vertel dat die luiperds baie skape sal doodbyt, maar net een sal neem om te vreet.
Dit gebeur blykbaar veral as daar 'n mannetjie en wyfie saam aanval.
"As jy die luiperd in 'n slagyster gevang het, lyk dit omtrent soos 'n bossieslaner wat gebruik was, so kwaad raak die tier dat hy alles probeer om uit die slagyster te kom. En as hy daar loskom, dan kom hy vir jou. Dan moet jy skiet om raak te skiet!"
Oom Jim het 'n paar noue ontkomings met luiperds gehad. Een wat vars in sy geheue is, is toe hy saam met sy honde een gejag het.
Hy het die luiperd met die eerste skoot gekwes, toe storm die luiperd op hom af. Nog 'n skoot, maar die luiperd storm nog.
Oom Jim draai om en struikel en die luiperd val sy een hond aan. Hy kon gelukkig opstaan en die doodskoot toedien, maar dit was amper neusie verby vir hom.
Hy vertel ook van bobbejane wat sy honde aangeval het en hy hulle moes beskerm.
'n Bobbejaan se slagtande is yslik en hy skeur 'n hond uitmekaar. Maar as die hond 'n bobbejaan op die bors kan beetkry, gee hy oor en wen die hond die geveg.
Hy moes menige nag in die bos slaap terwyl hy spoor gevolg het en dan die volgende dag verder spoorsny tot hy die roofdier(e) opgespoor het.
Dan moes hy ook verseker dat hy en sy honde nie in die nag deur slange gepik word nie.
Hy het 15 kinders gehad, 10 seuns en vyf dogters waarvan sewe seuns en drie dogters leef.
Hulle is meestal in die omgewing, tot so ver as Grabouw.
Oom Jim het opgehou tel oor hoeveel nasate hy het, maar sê dat daar baie Manusse is wat in die gebied is.
Sy lekkerste kos is wildsvleis, veral die klipbok wat in die berge is.
''Lekkerder as jy hom stop met 'n bietjie varkspek, maar die dier word nou beskerm en mag nie gejag word nie. Ek het baie met my .22 gejag wat ek gebruik het teen rooikatte, geklits," vertel hy.
Oom Jim is baie trots dat hy al vir 40 jaar nie alkohol gebruik nie. Hy sê dat hy baie baklei het en was 'n bobaas 'kopstamper', maar toe het hy 'n spirituele ervaring een dag in die berge gehad wat sy lewe heeltemal verander het.
Hy onthou dit goed - dit was op 20 Augustus 1973. Hy kwoteer verse uit die Bybel en dit is verstommend omdat hy nooit skoolgegaan het en nie kan lees nie.
Hy memoriseer alles en maak 'n grappie: "As die duiwel my Bybel wil wegvat, dan moet hy my kop afkap."
Dié merkwaardige man het ook 'n blyplek op Anton Muller se plaas, Sandfontein en stap hy gereeld die 25 km daarheen.
Oor die vraag of Albertinia en omgewing presteer of agteruitgaan, is oom Jim baie spesifiek.
Hy meen dat dissipline nie meer toegepas en kinders nie getug word nie, want daar is nou wette daarteen.
Hy glo ook dat mense nie meer wedersydse respek of mekaar lief het nie, soos in die verlede.
Volgens hom is dit die grootste rede vir onmin en geweld, asook politieke opsweping wat in sy jong dae nie 'n faktor was nie.
ARTIKEL: JEFF GIBSON, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'