Update Video
HESSEQUA NUUS - Min mense kan werklik sê dat hulle, óf enige van hul gesin, familie of vriende in enige stadium van hul lewe nie al die pad byster geraak het nie.
Versoekings kom in verskillende vorme daagliks oor ons lewenspad. Sommige daarvan begin heel onskuldig, soos daardie een te veel drankie wat jy weet jy eintlik nie moet drink nie, maar netnou dink jou vriende jy is 'chicken', of jy word uitgedaag om vir die eerste keer 'n dagga 'stoppie' te rook.
Groepsdruk is een van die groot oorsake dat veral jongmense begin om een of ander vorm van dwelms te begin gebruik. Slegte huislike omstandighede, werkloosheid, finansiële en ander persoonlike probleme kan ook 'n faktor wees. Gewoonlik begin dit klein of met iets redelik 'onskuldig' soos dagga, maar eindig dan met tik, Mandrax, Ecstasy, heroïen of kokaïen.
Suid-Kaap Forum het 'n video-onderhoud met die 18-jarige Tonia Richards gevoer, wat onlangs tot drie jaar korrektiewe diens (huisarres) gevonnis is, nadat sy skuldig gepleit het op die aanklag van handel met dwelms. Daarin vertel sy hoe dit gebeur het dat sy met dwelms betrokke geraak het, maar gee ook waardevolle raad aan ander jongmense om nie dieselfde paadjie as sy te stap nie.
Gaan na ons webtuiste by www.suidkaapforum.com, gaan dan na 'search' (vergrootglas regs bo) en tik die berig se opskrif of haar naam in om na die video te kyk.
Kyk 'n video hieronder:
• Tonia wil baie graag haar skoolopvoeding voltooi wat sy in graad 8 opgeskop het nadat sy uit die hoërskool geskors is. Enigiemand wat bereid is om haar te help om dié droom te verwesenlik, kan haar suster by 061 763 0385 of 072 571 1603 kontak.
Lees 'n vorige artikel: Die aanloop na dwelms
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'