Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Ongeveer 80 vroue en 'n paar mans van sover as die Kaap het Saterdag 5 Mei in die gemeenskapsaal bymekaar gekom vir die jaarlikse sosiale lyndansbyeenkoms.
Die byeenkoms word jaarliks deur Hes de Villiers van Stilbaai se Stil Billy Rockers-klub, in samewerking met Allison 'Alley' Dickson van die Kaap georganiseer. Dickson het die dag se lyndanspassies gelei.
Vanjaar het twee klubs van Kaapstad, George en Onrus na Stilbaai gereis, terwyl 'n klub van Mosselbaai, Swellendam en Gansbaai, asook Stilbaai deelgeneem het.
Dansers het van 10:00 tot 16:00 gedans. Diegene wat 'n naweek daarvan gemaak en langer aangebly het, het die res van die naweek gebruik om aan verskeie ander aktiwiteite deel te neem en die dorp en omgewing beter leer ken.
Volgens De Villiers, wat die Stil Billy Rockers-klub in 2005 op die been gebring het en dit steeds lei, het die Stilbaai-klub sy eie dans wat deur Dickson geskep is.
Kyk 'n video hieronder:
Dit is bekend as die Stilbaai Charleston, waarvoor die musiek Techno Band van die Suid-Afrikaanse groep, Swing City gebruik word. Die Stilbaai Charleston het al só bekend geword dat dit wêreldwyd gedans word en veral in China uiters gewild is.
'n Groepie vroue luister en kyk aandagtig na die passies van die volgende dans wat stap-vir-stap verduidelik word. Foto's: San-Marié Cronjé
Lees 'n vorige artikel: Lyndansers spog met passies
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'