MELKHOUTFONTEIN NUUS - Ballet maak van dogtertjies prinsesse.
Só sê balletonderwyseres Rolene Farre van Stilbaai. Sy het, onder meer na oorleg met Jenny Olivier van Ouma Lena se Huis, balletklasse vir plaaslike dogtertjies begin aanbied om hulle te laat voel hulle maak saak: "Ballet gee haar daardie regop ruggie, plat magie en kroontjie op haar kop. Sy leer nie net haar lyfie mooi gebruik om musiek lewe te gee nie, maar voel ook soos iemand wat tel. Dit bring hoop en selfwaarde wat haar iewers vorentoe gaan help."
Farre sê sy wou haar liefde vir dans en die waardevolle lesse wat dit haar geleer het, met ander deel.
As sielkundige kom sy daagliks met die hartseer in mense se lewens in aanraking en sy glo die gety kan deur dansterapie omgekeer word.
Sy vertel haar eie dansloopbaan het op haar ma se aandrang begin: "Ek was 'n regte tomboy en sy moes my uit die bome kry en weg van baklei met seuns. Geleidelik het ek lief geword vir ballet en later ook moderne dans gedoen."
Sy beoog om verder in sielkunde te studeer oor die impak wat ballet op 'n kind se volwasse beroepslewe kan hê.
Farre bedank almal wat bydraes vir skoentjies gemaak het en as borge vir die projek na vore getree het.
Agter, van links: Hannelie Brown, Katherine Kleinhans, Simoné Brits, Shumay Esau, Mieke Calitz-Rood, Rolene Farre, Donna Plaatjies, Nadia Groenewald, Leonie September, Lea de Vries, Larize Brits en Amy-Lee van Rooyen. Voor: Wanya Grobler, Zoë Saayman, Karien Rischmüller, Leigh-Che Flores, Julia Bartman en Lynnri Calitz-Rood.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'