STILBAAI NUUS - Evert Kleinhans, ’n boer, wat vermoedelik met dwelms, in besonder tik en dagga handel, is Dinsdag 19 Februarie, omstreeks 02:10 gearresteer.
Dit volg na die flink optrede van drie polisiebeamptes, sers. JM Spangenberg (K9 Langeberg), asook konstabels Christiaan Zwiegelaar en Johannes Petersen van Stilbaai-polisie.
Dié ondersoekspan is Maart verlede jaar deur kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder, saamgestel om die gerugte te ondersoek. Hulle het Maandag 18 Februarie op ’n wenk gereageer en het Kleinhans op Drakenstein gearresteer. Nog arrestasies sal moontlik volg vir regsverydeling vir diegene wat hulle skuldig gemaak het om Kleinhans gedurende hierdie tydperk finansieël te ondersteun om vervolging te ontduik.
“Tydens die ondersoek is Kleinhans op twee geleenthede betrap waar hy dwelms, insluitende tik en kweekhuisdagga, aan ’n polisiebeampte verkoop het. Die hof het beslis dat hy nie meer dagga of tik mag verkoop nie,” het Spangenberg verduidelik. “Ek het verneem dat hy blykbaar die hasepad gekies het, omdat sy woning ontruim was. Dít nadat hy gehoor het dat ons hom wil arresteer.”
Kleinhans, wat in 2015 op twee klagtes van handeldryf in dagga borg in Riversdal-landdroshof geweier is, het groot opslae gemaak met sy tydelike staking van vervolging wat hy ontvang het vir die kweek, besit en handeldryf in dagga. “Hy het die staking van vervolging deur die Hooggeregshof bekom en was op R10 borg vrygelaat. Die konstitusionele hof het op 18 September 2018 uitspraak gelewer dat die besit en die kweek van dagga by ’n persoon se privaatwoning gewettig is, maar die handeldryf in die middel is steeds teen die wet.”
Kleinhans het Vrydag 22 Februarie in die Stilbaai-landdroshof verskyn waar hy aansoek om borgtog gedoen het. Die saak is uitgestel vir ’n formele borgaansoek op Vrydag 8 Maart.
Konstabels Christiaan Zwiegelaar en Johannes Petersen.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'