HEIDELBERG NUUS - Twee persone is Donderdagaand, 19 Augustus in Dollar Square, Heidelberg in hegtenis geneem na Heidelberg-polisie 'n wenk ontvang het dat hulle dwelms verkoop.
D-skoflede, onder leiding van ao Karin Pretorius en sers Daniël Moos het 'n lasbrief verkry en die huis wat aan hulle uitgewys is, gevisenteer.
Hulle het op 71 sakkies tik, 25 heel mandraxpille, vier halwe en drie kwart mandraxpille met 'n straatwaarde van R6 000 afgekom, waarop hulle beslag gelê het.
'n Een-en-veertig-jarige man en 28-jarige vrou is in hegtenis geneem. Hulle het reeds in die hof verskyn en sal weer op 'n later datum verskyn nadat die uitslag van die laboratoriumtoetse beskikbaar is.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'