STILBAAI NUUS - Stilbaai-inwoners wat vir die Covid-19-inentings geregistreer het, het Donderdagoggend, 10 Junie sommer vroeg-vroeg by die gemeenskapsaal opgedaag om te verseker dat hule gehelp sal word.
Teen 08:30 was daar reeds 123 oor 60’s, waarvan sommiges soos Plugs de Jager reeds vanaf 06:30 in die koue daar was.
'n Vinnige meningsopname wys dat die meeste mense slegs geregistreer en nie die tweede SMS vir 'n afspraak gekry het nie. Een vrou het wel 'n afspraak gekry, maar sou dan George toe moes ry.
Teen 09:00 was dinge aan die gang en word die ry georden en getel omdat slegs die eerste 114 gehelp kon word. Die hele proses was Vrydag herhaal.
Stilbaai se mense het gewys wat medemenslikheid beteken en almal het hand bygesit om ouer en afhanklike mense te help. Die hele atmosfeer was ontspanne, sonder enige voorvalle en ongelukkigheid.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa het tussen die mense gestap en geselsies aangeknoop. Hy het gesê dat hy baie opgewonde is om die inentingsprogram in Hessequa te verwelkom en hy is bly dat die mense bo 60 in sulke groot getalle geregistreer het.
“Die derde golf is op ons en om te registreer en die entstof te ontvang, sal baie help om veilig by hierdie stadium verby te kom,” het hy gesê. Hy moedig mense aan om te registreer en om na die inentingssentrums te gaan, al het hulle nog nie 'n tweede SMS vir 'n afspraak gekry nie.
Die afgelope week was met inentings voortgegaan en kan geregistreerde persone oor 60 van die volgende dorpe nog vandag (Vrydag, 18 Junie) na die onderskeie sale gaan:
Dorp en plek:
• Riversdal-burgersentrum
• Heidelberg, Duivenhoks-gemeenskapsaal
• Albertinia, Theronsville-saal
• Stilbaai-burgersentrum
• Slangrivier-satelietkliniek
Nuwe datums sal bekendgemaak word sodra ontvang.
Die tou voor Stilbaai-gemeenskapsaal was sommer vroeg-vroeg lank.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'