RIVERSDAL NUUS - Die woonstelle wat in Pres. CR Swartstraat langs Riversdal SuperSpar geleë is, is onlangs gesloop.
Dit is om plek te maak vir tydelike parkering, die eerste fase van nog verbeterings wat gaan volg.
Die eerste eienaar van die blok woonstelle was Jan Christiaan (John) Carse. Hy is op 26 Oktober 1902 gebore en op 29 Oktober 1967 oorlede. Hy het homself in 1931 as prokureur, op Riversdal gevestig en was verbonde aan die Caledon en SWD Eksekuteurskamers Bpk.
Dié praktyk was in die Union-gebou geleë, nou die kantore van 'n bekende handelsbank en prokureurspraktyk.
Sy vrou, Margaretha (Maxi) Laubscher het op 5 September 1964 in die Volkshospitaal in Kaapstad gesterf. Carse dien selfs op die munisipale raad as raadslid en sy vrou was by verskeie organisasies betrokke. Nadat die ander vennoot, Versfeld afgetree het, het dr. Helgard van Rensburg, oudburgemeester en lid van die Volksraad, Mosselbaai kiesafdeling oorgeneem.
Die munisipaliteit keur op 11 Junie 1962 die planne vir die dubbelverdieping gebou goed.
Die beplande oprigkoste was R12 000. Kruger en Albertyn-beleggings het later die woonstelle gekoop. Een van die inwoners was matrone Anna Margaretha Stoffelina Steyn wat vir 40 jaar 'n huurder was.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'