HESSEQUA NUUS - Bytende muggies is 'n pes wat mens en dier treiter.
Veral in Stilbaai loop inwoners gedurende Oktober onder die lastige muggies deur. Ander kusdorpe in die streek het nie juis las daarvan nie.
"Hier is nie muggies in die dorp nie, maar op plase en in die duine kom hulle in digte swerms voor," sê Org Nieuwoudt van Gouritsmond.
"Ek sien nou en dan 'n muggie of twee in die dorp, maar hulle val ons nie lastig nie," sê Corrie van der Westhuizen van Witsand.
Hoewel die muggies elders saans en in die nag aktief is, is dié in Stilbaai ook helder oordag veral op warm, sonnige dae aktief. Waar hulle jou byt, dryf die gejeuk jou tot waansin. Sommige slagoffers ontwikkel 'n akute allergiese reaksie wat tot erge pyn en koorsigheid lei. Volgens twee inwoners wat onder die muggies deurloop, kom bytplekke veral op die kopvel voor.
'n Salf wat kortisoon bevat en pynstillers verskaf 'n mate van verligting. Al wat regtig werk is om uit die muggies se kake te bly en agter toe deure en vensters te skuil.
Vloeibare afweermiddels teen muskiete en ander bytende insekte, asook insekwerende middels wat piretroïed bevat word aanbeveel.
Die bytende muggies behoort klaarblyklik tot die Culicoides-groep en kom wêreldwyd voor. Tot op hede is 1 210 spesies beskryf. Hulle is piepklein - tussen 1 mm en 3 mm lank - en kom swart voor.
Net die wyfies byt, want sy het proteïen - jou bloed - nodig om eiers te lê.
Die eiers word in klam materiaal met 'n hoë konsentrasie organiese materiaal, soos modder of beesmis gelê. Wanneer die 100 tot 200 eiers uitbroei, voed die larwes op die organiese materiaal en verander in papies. Die broeisiklus kan binne drie tot vier weke voltooi word en verskeie geslagte kan binne een seisoen voortgebring word.
Die gashere is tipies perde, beeste, skape, pluimvee en, helaas, mense. Volgens 'n plaaslike veearts ontwikkel katte wat gebyt word 'n hiperallergeniese reaksie.
Die muggies kan moontlik draers van virusse wat bloutong in skape en perdesiekte in perde veroorsaak wees. Dié diere moet jaarliks teen hierdie siektes geënt word.
Diere moet verkieslik op die hoogste gedeelte van die plaas wei en teen skemer op stal gesit word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'