STILBAAI NUUS - Vir Ngiphiwe Rafutza en Henk Smith was Woensdag 11 Januarie 'n dag om te onthou en dit vir al die verkeerde redes.
Ngiphiwe was besig om die gras rondom Stilbaai-toerismekantoor te sny terwyl Henk met sy gesin foto's geneem op die bruggie by die toerismekantoor toe 'n swerm bye hulle toegetakel het.
Niemand weet waar hulle vandaan gekom het nie, maar miskien het die grassnyery hulle ontstel.
Ngiphiwe het onmiddellik in die vlak dammetjie geduik en Henk, wat van Worcester af kom, het die hasepad gekies na die toerismekantoor aangesien hy allergies is vir bysteek. Daar het Mariaan Harris hom onmiddellik twee allergex-tablette ingejaag en ook twee vir Ngiphiwe, wat intussen uit die dammetjie geklim het.
Gelukkig was Suid-Kaap Forum daar om hierdie hele petalje gade te slaan. En die goeie nuus is dat daar geen ernstige nagevolge was nie en almal kon agterna oor die voorval saamlag.
Henk Smith moes inderhaas in die toerismekantoor gaan skuil aangesien hy allergies is vir bysteke.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'