STILBAAI NUUS - Die bushaltes op dié kusdorp was vir 'n geruime tyd 'n seeroog vir baie inwoners en veral met die vakansieseisoen op hande, skep dit nie 'n goeie indruk nie.
Die halte voor OK Grocer was egter deur Harcourts onder hande geneem en het 'n splinternuwe voorkoms gekry.
'n Ander halte voor Steyns Boumateriale is egter nog in 'n baie slegte toestand.
Volgens die bestuurder, Willem Oelofse, is hulle nie vir die onderhoud daarvan verantwoordelik nie.
Hessequa-munisipaliteit meld in 'n epos aan Suid-Kaap Forum dat hulle die bushaltes vir 'n tydperk van vyf jaar aan verskeie plaaslike besighede verhuur.
"Die doel hiervan is om plaaslike besighede die geleentheid te bied om hul onderskeie besighede op die bushaltes te adverteer," lui die epos.
Die toekenning van die haltes word by wyse van 'n lotingsproses gedoen.
Geen huurgeld is deur die suksesvolle huurders betaalbaar nie, maar hulle is verantwoordelik om die bushaltes in stand te hou gedurende die huurtermyn, in ruil vir die vergunning om op die bushalte te mag adverteer.
Die koerant het telefonies met die verantwoordelike huurder in verbinding getree, wat voorlopig verkies om anoniem te bly.
Volgens hom was hy reeds sedert Oktober met Louis Labuschagné by die plaaslike munisipaliteit met onderhandelinge besig.
"Hy het gesê dat die munisipaliteit die dak gaan herstel, maar tot op hede het dit nog nie gebeur nie en ons kan nie met die verfwerk begin alvorens dit nie gedoen is nie."
Herstelwerk aan dié bushalte het reeds Dinsdag 21 November begin. Foto: Wilma Adamson.
Susan Geldenhuys, munisipale mediawoordvoerder het aan die koerant gesê dat die rietdak van die bushalte uitgedien is en sal binne die volgende twee weke deur die munisipaliteit vervang word met 'n sinkdak.
"Die verbetering is struktureel van aard en vorm nie deel van onderhoud van die bushaltes waarvoor die huurder verantwoordelik is nie.
Die bushalte voor OK Grocer is pragtig deur Harcourts opgeknap. Foto: Facebook
• Suid-Kaap Forum het Dinsdag 21 November gemerk dat die grasdakkie reeds verwyder en met verfwerk begin is.
ARTIKEL & FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'