Update
HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, raadsheer Grant Riddles het sy afgryse uitgespreek teenoor seksmisdade wat binne die munisipaliteit se bedieningsgebied geopenbaar is.
Riddles het reageer op beriggewing ten opsigte van vermeende seksmisdadigers wat in Riversdal-, Stilbaai-, Albertinia- en Heidelberg-howe verhoor word.
Een van die slagoffers was slegs drie jaar oud toe sy verkrag is. Die meeste van die ander is jonger as 10-jaar oud.
Hy het sy kommer oor die toename in seksmisdrywe binne die streek uitgespreek. "Ek dra my simpatie teenoor die slagoffers en hul families oor vir die pyn en lyding waardeur hul gaan," het Riddles gesê.
Hy het bygevoeg dat hy weet sy medelye sal nie die pyn van die slagoffers wegneem nie, maar dit is verblydend dat van hierdie sake reeds voor die howe dien.
"Seksuele aanranding en geslagsgebaseerde geweld teenoor ons vroue en kinders moet ten sterkste veroordeel word."
Riddles het die ondersoekspan gelukgewens met die arrestasies en die feit dat hulle alles binne hul vermoë doen om die streek se vroue en kinders te beskerm, asook om geregtigheid te laat geskied.
Hessequa-munisipaliteit het reeds inisiatiewe geloods om vroue en kinders teen geweld te beskerm. Dit sluit opvoeding by skole en die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders in.
"Aangesien kleiner kinders meer kwesbaar is, word opvoeding en bewusmakingsprogramme gereeld by skole, veral primêre skole en sentrums vir vroeëkinderontwikkeling aangebied."
Riddles het gesê die munisipaliteit se gemeenskapsontwikkelingsafdeling sal op 27 November in Riversdal hande met ander departemente en organisasies vat en 'n program oor hoe vroue en kinders hulself teen geweld kan beskerm, aanbied.
Vorige artikel: Burgemeester veroordeel seksmisdrywe
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'