Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - kykNET se Skole Top 10-span het Donderdag, 13 Mei by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal gaan kuier en sal eersdaags op die kassie verskyn.
"Onder die leiding van die skoolhoof, André Latsky het die skool 'n baie hoë standaard van dissipline, wat die span dadelik opgemerk het en wat verseker uitblink in hulle episode van Skole Top 10," het die regisseur van die program, Nicela Kriel gesê.
Met die hulp van die skool se bemarker, Sonja Holtzhauzen is die episode met insiggewende segmente gevul oor wat die skool bied. In die program kan die kykers daarna uitsien om meer te leer van die skool se boerdery en ook die karakter van tradisie, kameraadskap en broederskap tussen die hoërskoolseuns waarneem.
Fotogalery: KykNet se Skole Top 10 kuier by Oakdale
"Hierdie jong manne is nie net op boerdery gefokus nie, maar het 'n goeie balans van aktiwiteite. Ons aanskou die talent van Oakdale soos twee van die Bulle 'n pragtige lied tussen die lemoenboorde sing."
Die eerste rugbyspan neem ook aan Skole Top 10 se #BothaBeker uitdaging deel, waar hulle 'n nuwe rekord opgestel het. Die bekende sanger, Willem Botha wat daar op skool was se musiekvideo word ook in die program saam met ander lekker plaaslike musiekvideos gewys, soos deur die Oakdale Bulle versoek.
Hierdie episode sal Maandag, 24 Mei op DSTV kanaal 146 om 17:30 uitsaai en sal die moeite werd wees om te kyk. Heruitsendings sal op Woensdag om 19:30, Donderdag om 12:30, Vrydag om 16:30 en Saterdag om 18:00 gebeeldsend word.
Die kamera-operateur was Brenton du Plessis en die produksie-assistent Ryno Verster.
Kyk 'n voorsmakie hieronder:
Vorige artikel: Oakdale op die kassie
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'