Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Inwoners van Heidelberg is al raadop oor die swak kwaliteit van die water.
Die kleur wissel van ligbruin, donkerbruin tot bykans swart. Kennis is blykbaar deur Hessequa-munisipaliteit gegee dat daar Dinsdag, 18 Januarie geen water sal wees nie, aangesien daar aan die waterprobleem gewerk gaan word om die probleem op te los.
Van die inwoners het egter laat weet dat hulle sedert Maandagmiddag geen water gehad het nie.
'n Groot groep onder leiding van Vennito van Niekerk, opvoeder en gemeenskapsaktivis het Maandag, 17 Januarie by die ou tennisbaan bymekaargekom om hul ontevredenheid oor die kwessie, wat reeds vir meer as twee jaar duur, te opper.
Sommiges het voorgestel dat hulle hul betalings moet weerhou tot die munisipalteit die kwessie daadwerklik oplos.
By navraag aan Hessequa-munisipaliteit het Didi Budricks, hoof: Openbare betrekkinge en administrasie gesê die munisipaliteit voorsien drinkwater aan Heidelberg, Slangrivier en Witsand wat deur Overberg Water voorsien word.
"Gedurende die afgelope paar maande ondervind Overberg Water probleme by hul watersuiweringsaanleg, wat veroorsaak dat bruin water in die reservoirs en retikulasie-netwerk van die munisipaliteit beland.
"Die situasie het op 16 Januarie versleg en die munisipaliteit het hulle versoek om die toevoer na die munisipale reservoirs tydelik te staak. Verdere ondersoek het getoon dat Overberg Water se reservoir tans op 20% staan, met gevolg dat slyk binne die retikulasie netwerk beland het."
Video: Bruin water maak inwoners boos
Die munisipaliteit se tegniese departement het die retikulasie netwerk van die geaffekteerde areas gespoel en was waterkwaliteit weer aanvaarbaar. Hulle het Maandag ook die reservoirs skoongemaak, waarna Overberg Water aangedui het dat hul Dinsdag, 18 Januarie hul reservoir gaan skoonmaak.
"Gedurende hierdie wateronderbrekings het watertrokke Heidelberg met skoon drinkwater voorsien."
Die munisipaliteit bied verskoning aan vir die ongerief en bedank inwoners vir hul begrip.
Heidelberg se water lyk blykbaar gereeld só. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'