RIVERSDAL NUUS - Dit gaan reeds baie beter met Pitty en Vena wat behandeling vir 'brandsiek' ontvang het.
Dié veghonde (Pit bull) reun en teef is deur Sandra Lotz, voorsitter en stigter van Community Animal Rescue Society (CARS) na 'n plaaslike dierekliniek geneem vir behandeling. By die kliniek is dit bevestig dat die soort 'brandsiek' wat die honde het sarcopitc mange is. Dit kan aan mense oorgedra word.
Dit het groot reaksie van die publiek op sosiale media uitgelok omdat die honde nie van die eienaars verwyder is nie.
Die eienaar het onderneem om CARS te help deur ander honde eienaars in sy gemeenskap te leer hoe om beter na hul honde om te sien. Hulle het self nie geweet wat die honde makeer nie en het daarom hul honde na die dipdag geneem wat Lotz en haar span by Riverville gehou het. Dit is daar waar Lotz die eienaar meegedeel het dat die honde brandsiek het.
Vir CARS is dit belangrik om mense op te voed eerder as die honde weg te vat of te laat uitsit. Volgens haar kry meeste mense net weer honde wanneer dit weggeneem word. Omdat hulle die vorige keer nie geleer is wat om in so 'n situasie te doen nie, eindig die diere in dieselfde of erger toestand op.
Pitty en Vena is deur hul eienaar getrou na die dierekliniek geneem om gebad, gedip en behandel te word. In so geval word daar 'n reëling tussen CARS, die eienaar en die dierekliniek gemaak. Die kliniek se kostes moet steeds betaal word.
Lotz het gesê: "Die honde lyk reeds baie beter. Hulle velle is weer mooi pienk en besig om pragtig te genees. Die feit dat die eienaar by die genesingsproses betrokke is help hulle om baie te leer. Hy gaan ook weer ander in die gemeenskap leer. Meeste mense dink die honde het net vlooie. CARS het nie hondehokke waar ons honde kan hou nie."
Die nie-winsgewende organisasie het steeds die publiek se hulp nodig. Jy kan as vrywilliger aansluit en hoef nie voltyds beskikbaar te wees nie.
Indien jy 'n donasie kan maak of vrywilliger kan wees skakel Sandra Lotz by 082 962 1831.
Dit was duidelik dat Pitty die behandeling geniet het.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'