SUID-KAAP NUUS - Ons sien die afgelope paar weke gereeld rook in die lug trek as gevolg van grondeienaars wat weer besig is met die seisoenale brand van veld ter voorbereiding van grond/veld vir elkeen se besondere behoeftes.
Soos per vorige artikels en die Nasionale Veld en Bos Wet (NVFFA), word van die instansie wat die beheerde brandpermit uitreik en die grondeienaar wat wil brand, vereis om ten alle tye die FDI (Fire Danger Index) dop te hou en as 'n riglyn te gebruik om die uitvoer van beheerde brande suksesvol (en beheerd!) te kan aanpak.
Die FDI word deur verskeie faktore bepaal en verskil van plek tot plek. Die Suid-Afrikaanse Weerburo word as die enigste wettige instansie beskou wat 'n erkende FDI kan uitreik, soos bepaal deur die minister (en die NVFFA).
Die uitdaging is dat die FDI as 'n streekgemiddeld uitgereik word, met ander woorde die FDI langs die kus waar die dagtemperatuur byvoorbeeld 23°C is en die FDI teen die Langeberge, waar die dagtemperatuur byvoorbeeld 34°C is, bly dieselfde.
Die South Cape Fire Protection Association (SCFPA), plaaslike brandweerdienste en grondeienaars is reeds die laaste paar jaar nou betrokke om die uitreiking van hierdie proses ten opsigte van die FDI te reguleer en te bevorder.
Die SCFPA is besig met die proses om ander wettige FDI-bronne as erkende bronne te gebruik. Dus, met die tegnologie en sisteme tot ons beskikking word die FDI meer plaaslik ten opsigte van die perseel waar gebrand moet word uitgereik. Dit bring mee dat meer beheerde brande uitgevoer kan word, meer veld bestuur word en brandrisiko's afneem.
Die FDI word bepaal deur 'n formule wat die temperatuur, humiditeit (RH), windspoed en reënval teen 10:00 vir 'n 24-uur periode gebruik.
Faktore soos windrigting, barometriese druk, topografie en soort plantegroei, asook tipiese, onlangse, huidige en voorspelde weerstoestande MOET ook in gedagte gehou word om die FDI korrek te voorspel.
Die FDI word in vyf kleure verdeel waarvan elke kleur 'n aanduiding van die brandgevaar is en 'n beskrywing en voorgestelde optrede per kleur saamvat. Blou benodig die minste voorsorg tydens beheerde brande, terwyl oranje en rooi (indien brande toegelaat word) die meeste voorsorg verg. Die FDI word ook as aanduiding vir daaglikse voorbereiding ten opsigte van brandgevaar tydens die vuurseisoen gebruik. Onthou dat alle beheerde brande 'n brandpermit benodig.
Die plaaslike brandweerdienste sal eers na die voorspelde FDI vir die gebied waar beoog om gebrand te word kyk voor brandpermitte uitgereik word. Dit het ook al gebeur dat die FDI skielik hoog raak en grondeienaars dan gevra word om beheerde brande te staak en te blus.
Dit is uiters belangrik, soos genoem, dat die weervoorspelling wat na die dag van die beplande beheerde brand voorspel word, goed dopgehou word as beheerde brande beplan word. Dit is nie wys om 'n 50 ha rooipitjiebos op 'n perfekte, windstil, lae FDI -ag te brand wanneer daar vir die volgende dag stormsterk winde voorspel word nie.
Die SCFPA staan lede by ten opsigte van die dinamika en uitdagings wat met die FDI en beheerde brande gepaard gaan. Aan die einde van die dag wil ons die distrik ten opsigte van brandgevaar tot almal se voordeel maak veiliger maak.
Vir meer inligting kontak 028 713 1987 of scfpa.riversdale@gmail.com. Die FDI is beskikbaar vir SCFPA-lede by hul webtuiste: www.scfpa.co.za
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'