Update
RIVERSDAL NUUS - Goukam Health APD, subafdeling van Western Cape Association for Persons with Disabilities, het op Maandag 13 September hulle algemene jaarvergadering gehou.
Kantoorhoof Illze Olivier het die vergadering gelei en gesê 2020 was 'n hartseer jaar vir Goukam Health.
Dr Alison Madden is op 18 Desember 2020 oorlede na 'n kort siekbed. "Dr Madden was n groot boom in my lewe wat geval het en ek het haar vandag nodig maar sy is nie meer daar nie," het Olivier gesê. Covid-19 is ook 'n remskoen en minder pasiënte is opgeneem.
Goukam Health APD fokus op gestremde persone in Hessequa en die primere fokus is om gesinne te bemagtig om herintegrasie van die gestremde persoon in die gemeenskap te vergemaklik. Die projek bied gestremde persone vaardigheidsopleiding, gedragsverandering, gesinsopvoeding en sosiale herintegrasie asook versorging, 'n professionele suster, maatskaplike werkers en arbeidsterapie.
Dr Alison Madden is op 18 Desember 2020 oorlede.
Borge onmisbaar
Olivier het die borge bedank wat dit moontlik gemaak het om nuwe arbeidsterapietoerusting te koop sowel as 'n rekenaar vir die maatskaplike werker en haar assistant.
Sy het die talle privaat instansies en kerke vir hul bydraes bedank wat spesiale tye vir pasiente moontlik gemaak het.
Goukam kry fondse van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, maar nie naastenby genoeg om volledige dienste aan pasiente te lewer nie en daarom is elke borg noodsaaklik.
Richard Marshall, voorsitter van die beheerraad, het gesê dis 'n voorreg om die verslag voor te lees. "Ek wil elke donateur bedank vir hulle onbaatsugtige bydraes."
Hy het twee donateurs uitgesonder. "Met die finansiele skenking van FNB is 'n voertuig gekoop en met die geld van 'n donateur uit Kanada is die huis uitgeverf en algemene noodsaaklikke werk in en om die geboue gedoen." Hy het ook die bestuur en personeel vir hulle insette en hulp bedank.
Richard Marshall, voorsitter van Goukam APD se beheerraad.
Lang, moeilike pad
Pasiente het dikwels 'n lang en moeilike pad en ondersteuning deur familie en vriende is belangrik. "Elke pasient is spesiaal en word spesiaal hanteer," het Olivier gesê.
Gasspreker Khanyiswa Nkukwana (22) het haar hartroerende verhaal met die gehoor gedeel. Sy het grootgeword in Khayalitsha, Kaapstad waar sy tydens 'n rooftog geskiet is. Sy is in albei bo-arms, haar gesig en in haar nek gewond. Die skietwond in haar nek het haar spinale koord in twee gesny en na die voorval is sy van haar nek verlam.
Sy was eers 'n paar maande in Tygerberg-hospitaal en is daarna oorgeplaas na die Wes-Kaap Rehabilitasie Sentrum in Mitchels Plein. Vanaf Maart 2021 is sy 'n langtermyn pasient by Goukam Health APD. Sy sê daar was baie struikelblokke, kwade gevoelens en geweldige trauma om te oorkom.
Vandag is sy 'n stêrpasient en neem deel aan alle aktiwitiete. Sy het 'n vlymskerp sin vir humor en hou inwoners en personeel op hulle tone. Sy is lief vir Goukam Health APD en 'n inspirasie vir almal.
Goukam APD se kantoorhoof Illze Olivier oorhandig blomme aan Khanyiswa NkuKwana.
Vorige artikel: Borge help Goukam deur harde tye
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'