STILBAAI NUUS - Die ikoniese bootjie by die N2-afdraai na die dorp het 'n tweede lewe gekry.
Dis danksy die vrygewige bydraes van inwoners sowel as talle besoekers, vir wie dié bootjie die eerste stop vir die onvermydelike 'vakansie-selfie' is.
Na agt jaar as rigtingwyser het roes sy tol op die staal geëis. Toe sterk wind drie keer binne 'n kort tyd die mas omwaai, het die dorp se sakekamer besef drastiese herstelwerk is nodig. Dit sou egter ongeveer R12 000 kos.
Die oproep om finansiële bydraes het nie op dowe ore geval nie. Nie alleen kon die mas herstel en die bootjie nuut geverf word nie, maar met die geld wat oor is kan opgradering ook gedoen word. Die voorsitter, Rachel Wall, sê 'n platform sal gebou word sodat mense daarop kan staan om foto's te neem in plaas van om op die bootjie self klouter. Die geskiedenis van die landmerk sal ook aangebring word.
Volgens die sakekamer het die boot se boeg wat binneland toe wys, 'n drieledige simboliek:
- Vir nuwe intrekkers: Stilbaai is 'n dorp waar ampte, status en titels nie tel nie. Laat dit agter in die bootjie, wat dit binneland toe sal neem;
- Vir besoekers: Laat die bootjie alle bekommernisse binneland toe neem en geniet elke oomblik sorgvry in Stilbaai;
- Vir vertrekkende Stilbaaiers: Dis 'n uitdagende wêreld daarbuite, Stilbaai bly 'n veilige hawe.
Amper klaar...
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'