Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Boomhuis vir die kinders met 'n seeuitsig. Wat meer kan 'n mens vra?
Maar dié lekkerte het nie sonder moeite gekom nie. Jason Barnes van Stilbaai moes heelwat haakplekke uitstryk voor dié amper onverwagte projek 'n realiteit kon word.
"Ons het net voor die nasionale inperking by my suster-hulle gekuier toe my vrou, Lisa met die voorstel kom. Ek het in daardie stadium gedink dis te gevaarlik, want ons kinders, Quinn (4) en Juliet (2) is nog baie klein. Die gedagte het egter bly vassteek en toe kom die lockdown. Ek het daaroor gebroei en die beplanning in my kop het vorm begin aanneem," vertel hy.
Fotogalery: Boomhuis met 'n seeuitsig
Struikelblokke
Dit was belangrik dat die boomhuis veilig vir kinders moes wees. Dit sou 4m in die lug wees en 3x3m in omtrek, dus moes dit ook stewig wees.
"Aanvanklik het ek sonder om 'n leer te gebruik met die werk begin. Dit was maklik genoeg vir my om teen die stam op te klim. Maar ek was nog besig met die raamwerk toe die oordbestuurder by die plek waar ons woon, my in kennis stel dat iemand 'n klag ingedien het en ek die werk moet staak. "Jason het besluit om dit nie daar te laat nie en en wou weet wie gekla het en wat die klagte is. "Die kort van die lank is dat ek goedkeuring van die beheerraad moes kry. Dit is uiteindelik goedgekeur indien ek sekere reëls nakom."
Omdat al die reëls hoofsaaklik op veiligheid gerig is, het hy ingestem omdat dit vanselfsprekend was dat hyself daaroor begaan is. Weer eens was hy net goed op dreef toe die bou-inspekteer blykbaar toevallig daar opdaag en sê dat hulle 'n permit vir die boomhuis nodig het. Hy is na die munisipaliteit om uit te vind wat hom te doen staan. "Ek moes 'n struktruele ingenieur kry om die boomhuis goed te keur en af te teken. Eindelik is dit ook gedoen en kon ek aansoek vir 'n permit doen."
Volgens hom het die projek, terugslae en al, ongeveer drie maande geneem.
Kyk 'n video hieronder:
Aandag
Hy is egter tevrede dat alles die moeite werd was. Hy het selfs 'n valdeur ingebou sodat daar nie 'n oop gat is na die kinders opgeklim het nie. Vooraf is ook gereeld kwaliteitsbestuur gedoen. In 'n stadium was hulle agt mense in die boomhuis om doodseker te maak dat dit heelwat gewig kan dra.
En kostegewys? Jason lag toe hy antwoord. "My en Lisa se idee van 'n boomhuis is baie verskillend want sy was onder die indruk dat dit net 'n platformpie sou wees, wat dus nie te veel kos nie. Ek het geweet dis 'n veel groter projek, maar dit het so 'n bietjie meer gekos as waarop ek gereken het."
Die uitsonderlike boomhuis trek heelwat aandag, veral wanneer die inwoners of besoekers dit vir die eerste keer opmerk. "Ons het nie eens 'n spoedbult voor ons plek nodig nie, want almal ry dadelik stadiger wanneer hulle dit sien."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'