STILBAAI NUUS - Kom Desembermaand is dit vir baie mense tyd vir 'n luilekker sorgvrye vakansie op Stilbaai.
Besoekers kom van heinde en ver om hier te kom uitspan.
Dit is my wens dat hierdie vakansie aan elke vakansieganger se verwagtinge sal voldoen en dat hulle uitgerus en veilig sal terugkeer na hulle tuistes.
Ek wil graag by wyse van hierdie berig ook almal se aandag op die volgende vestig:
Aangesien fietsry as sport en ontspanning geweldig toegeneem het in populariteit, kom baie meer mense met fietse vakansie hou.
Sommer vyf of ses fietse vir die hele gesin en baie van die fietse is ook baie duur.
Gedurende die vakansie kry ons dus ook 'n toename in fietsdiefstal.
In die meeste gevalle word die fietse nie gebêre nie en lê dit sommer in die tuin, of word dit net in die agterplaas gelos.
Ek wil 'n ernstige beroep doen dat u spesifiek u trapfietse veilig sal bêre.
Dit sluit ook ander waardevolle items in.
Moet asseblief nie juweliersware en ander toerusting soos kameras en selfone onbewaak op die strand laat wanneer u gaan swem nie.
Moenie bestuur as jy alkohol ingeneem het nie. Daar gaan padblokkades wees en u gaan gevang word.
Veral die jongmense - wees verantwoordelik wat alkoholgebruik betref.
Jy kan jou toekoms in 'n oogwink verwoes.
Ook op Oujaarsaand sal ferm polisiëring toegepas word met die fokus op persone wat dronkbestuur.
Touchies vind weer op 26 Desember plaas.
Geen sterk drank word toegelaat nie, aangesien daar 'n biertuin is.
Geen persoon met sterk drank in sy besit sal toegelaat word om met die bote oor die rivier te gaan nie.
Geen persoon sal in die biertuin toegelaat word sonder om sy of haar identiteitsdokument/kaart te toon nie.
Dit is egter my wens dat elke persoon op Stilbaai met die nodige verantwoordelikheid, sowel as verdraagsaamheid sal optree.
Vergewis u van die reëls van die dorp.
Ek hoop dat dit vir ieder en elk 'n onvergeetlike vakansie sal wees.
Geseënde Kersfees en voorspoedige 2018.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'