RIVERSDAL NUUS - "Die plant van bome om 'n verskil te maak in ons lewensgehalte, is soortgelyk aan die impak wat wyle Daleen Matthee in vele mense se lewens gemaak het."
Dit is hoe Jan Odendaal, omgewingsaktivis en voormalige opvoeder die skryfwerk van Matthee beskou.
So is aan dié boorling van Riversdal tydens die Hessequa Harmoniefees hulde gebring met die bekendstelling van haar nuutste werke.
Die verrigtinge het in die geskiedkundige Fourie-huis plaasgevind en is deur ongeveer 80 aanwesiges, waaronder Niël Rademan en die welbekende aktrise, Elsabé Daneel bygewoon. Hilary Matthee, dogter van Matthee en haar eggenoot het ook die eerbetoning aan haar ma bygewoon.
Tydens die verrigtinge is daar vyf geelhoutbome geplant. Dit is deur onderskeidelik Hilary Matthee, Rademan en van die ander gaste geplant. Hulle is deur André Hansen, bestuurder: reiniging spesialisvaste-afvalbestuur en sy span werkers bygestaan.
Bome van vriendskap en hoop
Volgens Odendaal is die nalatenskap van die bekroonde skrywer deel van die mistiek van haar persoonlikheid en daarom die plant van bome van vriendskap en hoop. Odendaal het ook benadruk dat dit landswyd geplant word by skole, universiteite en ander dorpe. Daar is ook nou die nuwe camino van hoop wat nou in die Suid-Kaap gevestig is soos stappers bome van hoop plant nadat hulle hul staptogte voltooi het.
Odendaal noem ook dat daar baie voordele is om jou eie camino van vriendskap te begin.
Dit gaan oor koolstofvoetsporing wat 13 jaar gelede begin is om riviere skoon te maak om die waarde van skoon water aan te wakker. Daar is ook vele ander bates wat benut kan word deur bome te plant. Hy noem dat dit amper is asof iets heiligs tussen twee mense gebeur as hulle 'n boom plant.
Tydens die verrigtinge het van die aanwesiges ook van die gratis koetsritte gebruik gemaak wat beskikbaar was. Die koetse word deur spogperde en hul eienaar bestuur.
Heerlike versnaperings is tydens die verrigtinge aan die toeskouers aangebied.
Jan Odendaal – omgewingsaktivis, aan die woord tydens sy kort maar insiggewende toespraak. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'