HEIDELBERG NUUS - 'n Landbouer is woedend oor die diefstal van sy besproeiingstelsel se sproeiers.
"Aanvanklik is 10 of 20 sproeiers op 'n keer gegaps, maar die laaste tyd word tot 90 op 'n keer gesteel," sê Marius Kluyts. "Altesaam 250 sproeiers is die afgelope 10 maande gesteel."
Die koste om die sproeiers te vervang beloop sowat R20 000.
"Ek kan nie sulke verliese bekostig nie. Dis ook nie net die sproeiers wat vervang moet word nie, want daar is ook meer arbeid betrokke. Boonop is daar 'n verlies aan weiding."
Hy vermoed die sproeiers word aan ander landbouers verkoop, want as skroot is dit nie veel werd nie.
Hy rig 'n pleidooi aan medelandbouers om te help om die diefstal hok te slaan. "Meld dit asseblief aan as daar persone op jou plaas opdaag wat gesteelde goedere wil verkoop."
Al sy sproeiers is met 'n duidelike 'M' gemerk en hy versoek dat enigiemand vir wie die toerusting te koop aangebied word, die polisie moet verwittig.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'