HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie in Heidelberg het hul hande vol om misdadigers vas te vat. Daar is veral ’n skerp toename in inbrake en diefstal in die Heidelberg-distrik.
By die mees onlangse inbraak is verskeie items ter waarde van R39 475.00 uit ’n plaaslike onderwyser se woning gebuit.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, is daar by die opvoeder se woning op die plaas Welgeleë toegang deur ’n venster verkry en verskeie goedere, waaronder juweliersware en ’n fiets gesteel.
Ná deeglike speurwerk deur sp. konst. Donmary Roberts en sp.konst. Werner Greyling is die dief vasgetrek en in hegtenis geneem.
Dit blyk dat die 24-jarige beskuldige, Edwin Jantjies, onder korrektiewe toesig was en met sy korrektiewe diens by die polisiestasie besig was toe die misdaad plaasgevind het.
Hy het vlugtig in die hof verskyn en die saak is tot 8 Mei uitgestel. Hy bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’