RIVERSDAL NUUS - "Die spelers se koppe was reg aangeskroef, want hulle het besef dié een móés ons wen om nog 'n skrale kans te staan om aanstaande seisoen weer in die Super A-liga deel te neem."
Só gesels Rhyno Jacobs, hoofafrigter van Riversdal Blues, nadat sy span verlede Saterdag tuis verras het deur Progress met 39 - 0 te klop.
Na 'n sukkelseisoen waar die Blues veel meer kragmetings verloor as gewen het, is hulle nie veel van 'n kans gegun om die Georgiete te klop nie.
Hoewel Progress die afgelope seisoen of drie 'n skaduwee is van die span wat altyd onder die topvier spanne in die SWD se Superliga geëindig het, bly hulle so onvoorspelbaar soos die Franse en kan hulle op enige gegewe Saterdag 'n wedstryd in hul guns draai.
Waar die Blues laaste op die punteleer lê, is die Progress tans in die negende plek. Dis waarskynlik met die ingesteldheid dat hul plek veilig is en hulle net die liga wil afhandel, dat hulle na Riversdal gereis het om vir oulaas met die agterosse in die Superliga af te reken. Toe nie.
Andrew Jacobs van Riversdal Blues word deur 'n speler van Progress platgeduik.
Die tuisspan, wat om oorlewing veg om in die Super A-liga te bly, het hulself uit hul sokkies gespeel en Progress nooit toegelaat om die wedstryd te beheer nie. Só gefokus was die Blues dat hul bonuspuntdrie net ná rustyd gekom het. En vandaar af het hulle Progress nooit toegelaat om die "eier te breek" nie.
Jacobs het in 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum gesê 'n groot deel van hul sukses kan toegeskryf word aan die klompie jonger spelers wat ingebring is.
"Daar is geruime tyd al spelers in die laer spanne wat hul hand opsteek en Saterdag het ons hulle speelkans gegee. Die meeste is uit die tweedespan opgetrek en sonder uitsondering het hulle dié toets met vlieënde vaandels geslaag.
"Vroeër dié seisoen het ons op ervaring staatgemaak en dit het nie altyd uitgewerk nie. Nou het die klomp jonger spelers gewys wat in hulle steek en het hulle dié kans met albei hande aangegryp. Hulle verdien weer 'n speelkans."
Saterdag reis die Blues na die Gaatjie in Blanco om die tuisspan daar aan te durf. Vir die Blues is daar net een uitweg: kry minstens twee punte uit dié kragmeting om Maori's na die laaste plek op die puntelys te rangeer en hul plek in die Superliga vir volgende jaar te verseker. Kan mens vir 'n beter motivering as dit vra?
Die derby Saterdag tussen Albertinia Rangers en Seagulls gaan self 'n riller wees.
Hier kom 'n geveg soos min en die vonke gaan in Albertinia spat.
Darrel Prins val die doellyn aan.
Ashwin Botha, losskakel van Riversdal Blues, glip deur Progress se verdediging.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’