Die doel van die besoek was om die breinkind van Antoinette Burden, kliënte diensbeampte van die departement maatskaplike ontwikkeling, se 67 minute van welwillendheid met durf en daad uit te voer.
Burden het tydens haar toespraak met die Mandela Dag-program van die departement gesê dat die kinders absoluut haar hart gesteel het met haar eerste besoek aan die skool einde verlede jaar. "Wat my inspireer het, is dat hulle so min het. Hulle het nie eens 'n skooldrag nie, maar hulle was so dankbaar, gelukkig en positief in hul harte. Ek het toe besluit om vir hulle elkeen 'n sweetpak te kry vir die koue winter sodat hulle darem skooldrag kan hê," het sy gesê.
Sy het sonder om verder te twyfel dadelik 44 sweetpakke gaan bêrekoop by 'n plaaslike winkel en uit haar eie sak die deposito betaal. "Ek het geen idee op daardie stadium gehad waar ek die res van die geld vandaan gaan kry nie". Antoinette van Zyl, 'n vrywilliger wat ook graag 'n verskil in ander se lewens wil maak, het gehelp om verdere fondse in te samel deur middel van ou klere en ander items wat hul verkoop het. Die personeel by die departement het ook donasies bygedra en volgens Burden was Jane Saayman 'n groot hulp om alles georganiseer te kry. "Die oggend voor ons die Mandela Dag-program aangebied het en die items oorhandig het, het al die hardwerkende vrywilligers verseker dat al die sweetpakke se laaste kostes gedek is," het Burden dankbaar gesê.
Tydens die verrigtinge is die 44 sweetpakke, warm serpe, asook gelukspakkies aan die oorstelpte leerders oorhandig. Die maatskaplike werker, Nadia Hector het 'n inspirerende praatjie gelewer oor die wonderlike nalatingskap en voorbeeld wat Madiba ons nagelaat het. Volgens Mandy Zeelie wat in beheer by die skool is, kruip Vermaaklikheid Sendingskool ondanks vele terugslae en enorme uitdagings, diep in die harte van almal wat hul voete oor die stowwerige, maar nederige drumpel van hierdie besondere skool sit. "Hulle huiwer geen oomblik om enige vreemdeling tuis te laat voel nie. Dit is waarom ons eie blonde engel, Antoinette, die ekstra myl gedraf het om hierdie kinders spesiaal te laat voel. Ons is so dankbaar teenoor almal wat die dag moontlik gemaak het," het sy gesê.
Na 'n opwindende vertoning van dans, sang en gumboot-danse het almal heerlik gesmul aan die lekker toebroodjies wat Riversdal SuperSpar geskenk het. Burden het haar dank uitgespreek teenoor Michell Parel (hulp maatskaplike werker) en Nadia Hector (maatskaplike werker) wat met die program gehelp het. Vermaaklikheid Sendingskool spreek hul dankbaarheid uit teenoor die departement maatskaplike ontwikkeling, AGS Riversdal, Riversdal Tafelronde, SuperSpar, Christlike Academy Riversdal, asook elkeen wat op watter wyse ookal bygedra het om hierdie 67 minute 'n werklikheid te maak.
Zeelie sluit af: "Ten spyte van tonne sosiale probleme is daar tog mense wat uitreik na behoeftiges en dit vat een persoon om 'n positiewe kettingreaksie in plek te laat val; iemand soos Antoinette wat aangehou het en net nie 'nee' wou aanvaar nie. As gevolg van haar 'amazing' hardkoppigheid het Mandela Dag vir die kinders van Vermaaklikheid Sendingskool 'n werklikheid geword."
Wil jul 'n bydrae maak?
Die bestuur van Handelshuis in Riversdal het ingestem om 'n kartondoos in die besigheid te plaas waarin belangstellendes tweedehandse skoolklere in enige ouderdomsgroep kan plaas om aan die kinders te skenk. Grys broeke, wit hemde en blou truie is meer as welkom. Op die manier kan die gemeenskap help dat hulle ook 'n volledige skooldrag kan dra.

Personeel van departement maatskaplike ontwikkeling, onderwysers van Vermaaklikheid Sending skool en leerders spog met hul splinternuwe sweetpakke. Heel voor is Mandy Zeelie. Foto: Elize Blom.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'