Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die vakansieprogramme wat plaaslike biblioteke aangebied het, was die afgelope skoolvakansie nét die ding vir kinders van werkende ouers.
Die Heidelberg-dorpsbiblioteek en die Duivenhoks-biblioteek se voortreflike programme het die kinders heel week besig gehou.
Hulle kon veilig vir 'n paar uur per dag kuier en terselfdertyd iets nuuts leer. In die dorp was die bibliotekaris, Jacky Gildenhuys die hooforganiseerder, terwyl assistent Liesl Thysse by die Duivenhoks-tak baie besig was.
Herwinning van plastiek, boomplantdag, versorging van diere, Erfenisdag, asook Afrika-dag was van die leerprogramme wat aangebied was. Soggens is die teorie van die onderwerpe verduidelik en daarna is die leermateriaal prakties toegepas. Kinders het plastiekbottels oopgesny, dit omgebuig en geverf om blomme te maak.
Hulle kon ook 'n collage van 'n boom op papier teken, dit uitknip en plak. Hiervoor was 'n prys te wen.
Die kinders is ook geleer van tradisionele musiek en danse. Vir dié doel is daar by die dorpsbiblioteek pragtige skud-simbale uit koeldrankblikkies gemaak. Toe is daar lekker gesing en gedans.
Vrydag was dit braaidag. Die verrassing wat hulle belowe is, was darem nie die enigste rede hoekom die meeste van hulle elke dag by die twee biblioteke opgedaag het nie.
Hulle het speel-speel sommer baie geleer.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Biblioteke treffers by kinders
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'