Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO'S - Wêreldvleilanddag is verlede week met 'n inligtingsessie vir leerders gevier.
James de Kela, die plaaslike basisbestuurder van Working on Fire (WoF) en Rhett Hisemann van die Gourits-Groepsbiosfeerreservaat (GCBR) het die belangrikheid van die bewaring van vleilande vir 'n groep skoolkinders van Panorama Primêre Skool by die Steg, die brug oor die Vetterivier, verduidelik.
Volgens De Kela is dit belangrik dat kinders leer hoekom vleilande bewaar moet word. "As ons die vleilande nie nou bewaar nie, gaan daar niks vir ons kinders se kinders oor wees nie," sê hy.
"As die vleilande op die verkeerde tyd van die jaar brand word die veenlaag onder die grond vernietig en verloor die vleiland sy waterhouvermoë," sê Hiseman.
Dit vernietig ook die habitat van klein diertjies en voëls.
Driekwart van die palmietvleilande in die Hessequagebied is reeds vernietig en dit is belangrik om te voorkom dat nog palmiet verwyder word, want die plant se wortels is die wondergom wat die grond in 'n rivierbedding en op die oewers bymekaar hou. Die palmietwortels en veen (verrotte plantmateriaal van tot 10 m diep) werk soos 'n spons wat die water vashou en stadig vrystel.
Dit dien ook as filter wat chemiese afval, soos kunsmis wat in die riviere beland, opneem sodat water laer in die stroom of in damme skoner is.
"Waar die palmiet uitgehaal word om vir landerye plek te maak, kalwe die walle in wanneer die rivier afkom en hierdie kosbare bogrond gaan vir altyd verlore." Volgens Hisemann is die Goukou-riviersisteem nog in 'n redelike goeie toestand en dit kan nog gerehabiliteer word, daarom is die GCBR bereid om geld daaraan te bestee deur byvoorbeeld uitheemse indringerplante in die opvanggebied van die rivier te verwyder.
Baie werk is reeds gedoen om die Duivenhoksrivier te rehabiliteer deur klipskanse te bou om die oewers te stabiliseer en skansmure te bou om die vloei van die rivier in die rivierbedding te hou.
Kyk twee video's hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Fokus op vleilande
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'