STILBAAI NUUS - Suid-Afrika se beste witblitsstoker bly in Stilbaai.
Marijke Kleynhans (38) van Jongensfontein Betonprodukte is die naweek van 3 en 4 Junie as die nasionale witblitsstoker by die Mampoerstokersgilde se 40ste nasionale kampioenskappe by die Willem Prinsloo-museum buite Pretoria gekroon.
Marijke is die eerste vrou in die 40 jaar wat die kompetisie aangebied word om as kampioen gekroon te word. Dis gewoonlik die groot stokers daar uit Potgietersrus se wêreld wat met dié titel wegstap.
Sy het ook die trofee ontvang vir die beste stoker uit die Wes-Kaap. Hier het sy geskiedenis gemaak deurdat dit die eerste keer is dat hierdie trofee toegeken is aan iemand uit die Wes-Kaap.
Marijke het behalwe die witblits en mampoer wat sy ingeskryf het, 'n paar verskillende geure van elk natuurlik, ook 'n perskebrandewyn ingeskryf. Die perskebrandewyn het al 18 maande in hout verouder. Sy gaan ook van dieselfde brandewyn nog sowat 18 maande verouder en weer inskryf.
Meeste van haar witblitsinskrywings het goud verower, ook die brandewyn, en dan het sy ingelegde vye in 'n vye mampoerstroop ingeskryf wat vir haar 'n dubbelgoud besorg het.
'n Pruimkonfyt met perskemampoerstroop het ook baie goed gedoen en haar kersie-mampoer was 'n klaswenner.
Dit was egter haar witblitspakket wat vir haar die nasionale titel besorg het.
Marijke sê haar man, Rudie, en sy oom Jakes Ellis, het so bietjie gestook en dan het sy maar so saam aan hulle produkte geproe.
Sy kon egter nooit verstaan hoekom die witblits soms lekker geproe het en ander kere weer nie so lekker nie.
Dit het haar só gepla dat sy in 2018 'n week lange kursus in Centurion by die bekende stoker, Hendré Barnard, gaan doen het.
Sy het teruggekom en die gogga het haar behoorlik gebyt. Aanvanklik het sy net witblits gestook en dit het so goedgegaan dat sy vir Rudie uitgestook het. Later het mampoer bygekom.
In daardie stadium het sy net een koperketel gehad, maar vandag spog sy met twee koperketels wat met gas werk en 'n vlekvryestaalketel met koper binnegoed wat met elektrisiteit werk. Haar gunsteling ketel bly egter maar die koperketel.
Hierdie klein keteltjie gebruik sy baie keer om idees te toets. Hy gee minder as 'n 750 ml bottel.
Sy benadruk dat witblits net met druiwe gestook word en mampoer met vrugte. Ook nie sommer die optelvrugte nie, maar ordentlike vrugte. Ongelukkig is vrugte duur as jy dit in 'n winkel koop en sy ry maar self na die vrugteboere toe en koop dan in grootmaat om kostes laag te hou.
Sy mag glad nie haar witblits en mampoer verkoop nie, wat dit 'n duur stokperdjie maak en haar langtermynplan is om later 'n lisensie te kry om te kan handeldryf.
Die Wes-Kaap het van die strengste regulasies in die land, maar sy het haar tuisbroulisensie en sy maak seker dat haar ketels en brouprosesse binne die letter van die wet bly. Sy is ook gemagtig om 'n ketel te besit.
Dit is vir Marijke belangrik dat hierdie tradisie sal voortleef en nie uitsterf saam met die ouer stokers nie, maar in Marijke se sorg is die witblits- en mampoerstokery in veilige hande.
Marijke Kleynhans by die trofeë wat sy verower het. Links is die trofee as nasionale kampioen. Die Wes-Kaap-trofee met die kersie mampoer trofee langsaan. Regs is die beste witblits sonder dop trofee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’