Gallery Update Video
MELKHOUTFONTEIN NUUS EN VIDEO - Met kultuur-, opvoedings- en sportaktiwiteite wat van Maandag 28 Mei tot Sondag 3 Junie aangebied is, was dit 'n besige week vir Melkhoutfontein-omgewing se kinders en ouers.
Verskeie aktiwiteite is daagliks aangebied met die Hope4Kids-projek wat deel is van nasionale kinderbeskermingsweek.
Dit is deur Jenny Olivier in samewerking met Badisa, Eden-sportraad, Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Hessequa-munisipale sportraad, kerke, polisie, Ouma Lena se Huis, Famsa, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en verskeie Eden-sportfederasies moontlik gemaak.
Hoewel al die aktiwiteite gedurende dié week plaasgevind het, het dit ook langtermynoogmerke en verskeie opvolgprogramme spruit reeds daaruit.
Kinders by Ouma Lena se Huis het Maandag behoorlik pret gehad deur aan inheemse speletjies deel te neem wat deur die departement van kultuursake en sport van Oudtshoorn aangebied is, terwyl KANSA die volgende dag verskeie skole besoek het met 'n poppekasaanbieding oor gesonde eetgewoontes. Daar was selfs iets vir die oues van dae wat ook in die gemeenskapsaal aan die Golden Games kon deelneem.
'n Totaal van 89 jong atlete van omliggende skole het Woensdag aan 'n mini-landloopbyeenkoms op die sportterrein deelgeneem wat deur atletiek SWD aangebied is, met die oogmerk om dit later volhoubaar aan te bied. Famsa het Donderdag 'n ouerleidingskliniek by Ouma Lena se Huis aangebied, terwyl die kinders later die middag deur lede van SWD-krieket op die sportterrein tydens 'n mini-kriekettoernooi touwys gemaak is.
'n Paar aktiwiteite moes Vrydagaand vanweë die reën en koue weer afgestel word, maar die aand se visete is goed deur ongeveer 120 mense ondersteun.
Kinders moes geblinddoek 'n roete stap met slegs die aanwysings van maatjies. Dit was een van die inheemse speletjies wat by Ouma Lena se Huis aangebied is.
Saterdag was die jaarlikse ARISE-geleentheid, waar kinders wêreldwyd die Here loof, met 'n groot sportdag gekombineer. Dit het begin met 'n optog vanaf Ouma Lena se Huis, waarna die voormalige Sewesrugbykaptein, Frankie Horne die kinders oor die moontlikhede in sport toegespreek het. Hulle kon toe aan 13 sportsoorte deelneem waar hulle deur professionele sportlui van verskeie Eden-sportfederasies gelei is.
Daar was medaljes vir almal wat die 2 km- en 3 km-roete voltooi het.
Die potspel was uiters gewild en 'n paar spelers het beïndruk. So ook het kinders by die gholf, skaak en veerpyltjies uitgestaan. Daar was ook tafeltennis, jukskei, toutrek, bofbal, netbal, skaak, sokker, sewes- en raakrugby en domino's met medaljes, pryse en eetgoed wat die oë laat blink het.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Olivier was dit 'n besonderse week vir jonk en oud en is hulle opgewonde oor die langtermynprogramme wat uit dié week se aktiwiteite voortvloei.
Lees 'n vorige artikel: Melkhoutfonteiners het 'n besige week gehad
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'