STILBAAI NUUS - Verskeie sake van gemeenskapsbelang sal tydens Stilbaai Belangeforum (SBF) se algemene jaarvergadering op Maandag 12 Februarie om 16:00 in Palinggatoord se saal bespreek word.
Die SBF kry toenemend navrae oor Erf 657, Stilbaai-Wes rakende die stuk grond oorkant die munisipale kantore wat langs Hoofweg-Wes, vanaf die Jongensfonteinpad tot by die gholfbaan in Arendstraat strek.
Die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, gaan verduidelik wat Hessequa met hierdie strategiese stuk grond beoog.
Almal by die vergadering sal die geleentheid gebied word om insette te lewer.
Die vergroening van die dorp is 'n verdere aspek wat bespreek sal word.
Die munisipaliteit het die prys gewen vir die groenste dorp in die Wes-Kaap en die derde groenste dorp in Suid-Afrika.
Die oogmerk is om hierdie prys op nasionale vlak te wen. Almal word uitgenooi om oor hierdie saak, wat vir baie na aan die hart lê, voorstelle te maak.
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'