STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-belangeforum se Skoner Stilbaai/Groener Hessequa-aksie wat deur dié organisasie van stapel gestuur is en deur die oorgrote meerderheid plaaslike verenigings en organisasies gesteun word, doen 'n beroep op inwoners en vakansiegangers om, waar moontlik, met skoonmaakaksies te help.
Dit kan gedoen word deur rommelstrooiery te help voorkom en rommel te verwyder waar dit teëgekom word.
Hulle bedank ook die groepe en individue wat aktief is om rommel op die strande, wandelpaadjies, strate en ander plekke in die dorp en omgewing op te ruim.
Volgens dié organisasie is vuilgoedsakke wat uitgesit word dae voor die dag waarop vullisverwydering gedoen word, heel dikwels die oorsaak dat rommel versprei aangesien mense en diere dit oopskeur op soek na kos.
Vakansiegangers veral word gevra om vol vullissakke in die houthokke wat by die brug en by die begin van die Preekstoelpad aangebring is, te plaas.
Enige persoon wat voorstelle het of stappe neem om die dorp nóg skoner te maak, word genooi om met die Stilbaai-blangeforum in aanraking te kom.
Die Groener Stilbaai-aksie is goed op dreef en danksy die goedgunstige hulp van 'n lid van die belangeforum, is ongeveer 4 000 inheemse boompies vir aanplanting in Stilbaai en ander dorpe in die Hessequa-streek beskikbaar gemaak.
Hulle bedank die lede van die gemeenskap, wat in samewerking met die munisipaliteit besig is om die boompies in ses gebiede wat as parke geoormerk is, aan te plant.
Die belangeforum moedig die aanplanting van inheemse bome aan veral met die oog daarop om so spoedig moontlik alle Rooipitjie- en Port Jacson-bome uit te roei.
Die Stilbaai-belangeforum kan bereik word by www.stilbaai-belangeforum.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'