STILBAAI NUUS - Gerhard Klonus het op Sondag 5 Januarie sy 80ste verjaarsdag saam met vriende en geliefdes gevier.
Hy was sedert kindsbeen 'n gereelde vakansieganger en hy en sy vrou Colsie het na hul aftrede in 1998 permanent na die dorp verhuis. Die Klonus-egpaar was op 3 Oktober 55 jaar getroud.
Klonus was tussen 1984 en 1998 voorsitter van die Stilbaai sport- en ontspanningsvereniging, waar hy elke jaar saam met Theo Kleynhans funksies soos die Touchies, die Oujaarsaanddans in die gemeenskapsaal en boeresport op die strand gereël het.
Die egpaar het ook Stilbaai Slaghuis in 2001 vir 'n jaar lank bedryf.
In 2007 het die Stilbaai Bewaringstrust Klonus se bydrae tot die dorp se kultuurerfenis tydens die afbreek en verskuiwing van die twee pioniersvakansiehuisies Urheim en Friedensheim, wat aan die Klonus-familie behoort het, erken. Die huisies wat uit die eerste dekade van die 20ste eeu dateer, is vanaf Andersonstraat tot langs die Jagersbosch-opstal geskuif.
As huldeblyk aan hul pa het die Klonus-kinders vir hom 'n bankie by Rock of Faith op Shelly Beach opgerig. Dis dieselfde plek waar Klonus se grootouers in 1906 verloof geraak het.
Sy geliefdes en vriende wens hom 'n wonderlike en gesonde lewensjaar, vol van God se rykste seëninge toe.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'