HESSEQUA NUUS - Die vierde aanbieding van die Hessequa Harmoniefees het weer eens puik vermaak vir feesgangers van oraloor gesorg. Die verrigtinge het Maandag, 20 September begin en Saterdag, 25 September met 'n konsert by Dasjesdrift-plaas afgesluit.
Die feesgangers is deur baie bekende kunstenaars, digters, akteurs en sangers, waaronder Jak de Priester, Niël Rademan (inisieërder en produksiebestuurder), Elsabé Daneel, Bettie Kemp, Lucas Heinen, Wilken Calitz en die RAN-marimba-orkes vergas.
'n Groot gunsteling onder die feesgangers was die 75-jarige veteraanaktrise, Sandra Prinsloo wat soos 'n 30-jarige die gehore met haar vertoning in Oskar en die Pienk Tannie met haar jeugdigheid en dramatiese vernuf trakteer het. 'n Bekende sakevrou van die dorp, Sue Gomes-Luis het haar vertonings as ongelooflik beskryf.
Volgens Rademan was die fees onder die huidige omstandighede bo sy eie verwagtinge en is hy groot dank en waardering aan al die kunstenaars, feesgangers en die ander rolspelers verskuldig.
"Ek sien uit na volgende jaar se fees en ek kan met sekerheid benadruk dat dit weer aan die hoë standaarde van die afgelope vier jaar sal voldoen, en dalk nog oortref," het hy gesê.
Musiekliefhebbers het die klassieke musiek van die Stellenbosch Universiteit se blaasorkes in die NG Kerk terdeë geniet.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'