Update
RIVERSDAL NUUS - John Pietersen, oftewel Tokka, is gedurende die nag van Sondag 8 en Maandag 9 Desember noodlottig in 'n motorongeluk beseer.
Volgens 'n ingeligte bron het hy na bewering by Caledon uit sy voertuig geklim om beter selfoonsein te kry.
Hy is deur 'n ander voertuig raakgery en is op die toneel oorlede.
Pietersen is op 8 Maart 2018 by sy huis op die dorp in hegtenis geneem en het die volgende dag in die Stilbaai-landdroshof verskyn.
Aanklagte teen hom het onder meer handeldryf in dwelms en poging daartoe, regsverydeling, opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer ingesluit. Die ondersoek is deur sers. JM Spangenberg van die K9-eenheid op Mosselbaai en konst. Christiaan Zwiegelaar van Stilbaai-polisie geloods.
"Hy het tereggestaan op vyf aanklagte van handeldryf in tik wat in 2017 gepleeg is," het Spangenberg Maandag gesê.
Pietersen het op 18 Junie vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn en die saak is uitgestel tot 25 Junie waartydens hy 'n borgtogaansoek gebring het. Hy is borgtog geweier. Later het 'n regter in die Wes-Kaap-hooggeregshof wel borgtog van R10 000 toegestaan.
Een voorwaarde was dat hy nie binne die Riversdal-landdrosdistrik mag kom nie, tensy hy hier in die hof voorkom. Hy het ten tye van sy dood op Elsiesrivier gewoon.
Lees 'n vorige artikel: Vermeende dwelmhandelaar sterf op N2
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'