GOURITSMOND NUUS - Dié klein kusdorpie het besluit om Vrouedag, 9 Augustus, nie net saam met vroue te vier nie, maar het die net wyer gegooi en het hulle die manne, sowel as die jeug betrek.
Die geleentheid is deur 80 mans, 110 dames en 100 jeugdiges bygewoon. Die gasspreker, Zane Meas, wat bekendheid verwerf het as Neville Meintjies van 7de Laan, het sy slagspreuk van sy Fatherhood Foundation wat hy reeds 15 jaar gelede gestig het, gebruik in sy kragtige boodskap van "changing families, one man at a time".
Die klem word op die man as die hoeksteen van sy gesin geplaas en is die mans uitgedaag om die roeping van pa-wees in gehoorsaamheid uit te voer.
"Die welstand van gemeenskappe word bevorder wanneer meer kinders opgroei met 'n betrokke, verantwoordelike, toegewyde en liefdevolle vaderfiguur," het hy gesê.
Soos die man, het die vrou ook 'n unieke rol wat sy in die gesin speel, want sy skep die atmosfeer wat in die huis heers.
'n Teenwoordige man laat sy vrou veilig voel en kan sy die rol as tuisteskepper, werkende vrou en moeder ten volle uitleef. So word sy ook die "kroon" op haar man se kop, iemand op wie hy trots kan wees. Saam met hom kan hulle die belange van hul gesin dien en uitbou.
"Elkeen van ons staan in 'n beroep, maar ons het ook 'n unieke roeping wat God aan ons toevertrou het. God gebruik steeds gewone mense om buitengewone dinge te doen," het hy afgesluit.
Hannes Coetzee van Herbertsdale en Etienne Steyn van George het met sang en musiek tot 'n gesellige atmosfeer bygedra. Na die verrigtinge is gesellig saamgekuier en is dit op 'n vrolike noot afgesluit.
Die organiseerders het Zane en sy vrou, Megan, bedank wat te midde van 'n besige program Gouritsmond besoek het.
Megan en Zane Meas in gesellige luim. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'