WES-KAAP NUUS - Behoeftige bejaardes word sedert 2015 deur Solidariteit Helpende Hand bygestaan in hul pad na beter gehoor.
Impact Hearing skenk gehoortoestelle en deur dié samewerkingsooreenkoms spoor Helpende Hand mense op wat dit die nodigste het, maar dit nie kan bekostig nie.
Die organisasie nooi behoeftige bejaardes wat gehoorgestremd is om aansoek vir gratis behandeling te doen.
Gedurende die drie jaar van die projek is ongeveer 130 bejaardes al gehelp om vir die eerste keer in jare hul geliefdes se stemme te hoor.
Almal moes gehoortoestelle kry, maar kon dit nie bekostig nie en hulle het ook nie oor 'n mediese fonds beskik nie.
Helpende Hand het saam met Yentel Vorster van Impact Hearing aan hulle 'n gehoorapparaat geskenk en ook die passing gratis gedoen.
Volgens René du Preez, projekorganiseerder by Helpende Hand, lê bejaardes die organisasie na aan die hart en deur middel van verskeie inisiatiewe is die Ouma-en-Oupa-projek daarop gefokus om persone ouer as 60 jaar te ondersteun, te bederf en te vereer.
"Dit is vir ons 'n geweldige voorreg om weer vir bejaardes menswaardigheid en sosiale interaksie terug te gee.
"Sosiale isolasie deur gehoorverlies lei na depressie en kan ook baie keer na ander siektes lei. Hierdie projek het 'n baie positiewe invloed op hul lewens," sê Du Preez.
Nuwe toestelle is op 8 Augustus weer aan 'n groep bejaardes oorhandig. Toetsing vind vanjaar weer plaas, maar 'n versoek word gerig dat bejaardes met eie vervoer na die toetsing moet kom, aangesien vervoer nie verskaf word nie.
Doen aansoek deur René du Preez by 012 644 4390 te skakel of stuur 'n e-pos aan rene@helpendehand.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'